Agang kla oor onreëlmatighede

Mamphela Ramphele konfronteer die OVK-beampte Foto: Agang SA, Twitter

Mamphela Ramphele konfronteer die OVK-beampte Foto: Agang SA, Twitter

Die Onafhanklike Verkiesingskommissie (OVK) in die Wes-Kaap het bevestig sy beamptes het nie onreëlmatig opgetree nie nadat die leier van Agang SA glo ʼn beampte met stembriewe “betrap” het.

Mamphela Ramphele, leier van Agang, het vroeër ʼn foto op Twitter gelaai waar sy ʼn verkiesingsbeampte by ʼn stempunt in Philippi, Kaapstad konfronteer.

Volgens Courtney Sampson, provinsiale verkiesingsbeampte, het ʼn ondersoek bevind dat Laerskool Bongolethu gebruik is as ʼn stemsentrum, en dat verskeie klaskamers as substasies gebruik is. “Die betrokke beampte het materiaal van een substasie na ʼn ander geskuif. Ons is tevrede,” het Sampson verduidelik.

Agang het glo ook ʼn klag ingedien oor stembokse by ʼn stempunt in Gauteng wat nie geseël was nie en dat ʼn OVK-beampte glo stembriewe vir die ANC gemerk het.

Kate Bapela, woordvoerder vir die OVK, wou nie kommentaar lewer oor die klagtes nie, maar het gesê dat Agang presies weet watter prosedures deur politieke partye gevolg moet word indien daar klagtes is. Sy sê klagtes word eers op ʼn plaaslike vlak by die betrokke stempunt hanteer en, indien daar nie ʼn oplossing is nie, word die klag verwys na die nasionale uitslagsentrum in Pretoria. ʼn Skakelkomitee vir die politieke party sal die klag by die uitslagsentrum ondersoek en die OVK het ook ʼn regspan by die uitslagsentrum.

ʼn Klag dat ʼn inwoner van Gauteng ʼn stembrief by die stempunt in Philippi, Kaapstad ontvang het wat glo reeds gemerk is, is vals. Beamptes hou vol dat die stembrief skoon was, maar die persoon het glo foutiewelik ʼn nasionale en provinsiale stembrief ontvang. Kragtens die reëls moes sy slegs ʼn nasionale stembrief ontvang het, omdat sy nie in die Wes-Kaap geregistreer is om te stem nie. Beamptes het die fout ontdek voordat sy haar provinsiale stem in die stembus kon gooi.

Sampson het gesê mense wat by stempunte opdaag waar hulle nie geregistreer is nie, veroorsaak ʼn probleem. “Indien 2 500 kiesers by ʼn stempunt geregistreer is, is daar slegs 2 500 stembriewe by daardie punt,” het sy gesê. “Indien jy dus by ʼn ander stempunt gaan stem, beteken dit eenvoudig dat die stelsel uitgedaag word.” -SAPA

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.