Agang SA versoek Tlakula se uittrede

Pansy Tlakula. Foto: eNCA

Pansy Tlakula. Foto: eNCA

Agang SA het Donderdag die voorsitter van die Onafhanklike Verkiesingskommissie (OVK), Pansy Tlakula, versoek om tot na die verkiesing uit te tree.

“Tlakula en Stephen Langtry behoort in die belang van ʼn vry en regverdige verkiesing uit te tree,” het Paul O’Sullivan, woordvoerder van Agang SA, gesê.

Die uitslag van ʼn forensiese ondersoek deur ouditeure van PriceWaterhouseCoopers namens die Nasionale Tesourie oor die aanskaffing van die OVK se kantoor by Riverside-kantoorpark in Centurion, Pretoria, is verlede week vrygestel. Die verslag het bevind dat die aanskaffingsproses nie regverdig, deursigtig of koste-doeltreffend was nie.

Die verslag het ook bevind dat Tlakula verskeie persone nie ingelig het oor wat van hulle verwag word tydens die proses nie.

“Dit is krities dat die OVK bo verdenking moet bly,” het O’Sullivan gesê. “Die OVK kan dit nie doen terwyl Tlakula en Langtry steeds hul poste beklee nie.” Hy sê die vlak van integriteit en etiek in die OVK het verdamp, die oorsig van die verkiesing is in gevaar en die hele organisasie word nou bevraagteken.

Agang SA het ook versoek dat Norman du Plessis, adjunk hoof verkiesingsbeampte moet terugtree, maar Kate Bapela, woordvoerder van die OVK, het gesê hy het reeds afgetree.

Mamphela Ramphele, leier van Agang SA, het gesê onderwysers, wat deel is van die onderwysvakbond Sadtu en in die verlede ontplooi is om stembusse te beman, moet van hierdie rol verwyder word. “Daar is ʼn konflik van belange indien Sadtu-lede as verkiesingsbeamptes in ʼn multipartyverkiesing optree,” het Ramphele gesê. -SAPA

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.