Agent vang baba terwyl sy huis vir kliënte wys

Kim Hansen by die babaseuntjie wat sy in die lewe help bring het.

ʼn Afspraak om ʼn huis vir kliente te wys het heel anders afgeloop as gewoonlik vir ʼn eiendomsagent van Kaapstad nadat die eienaars van die huis se huiswerker onverwags in kraam gegaan het.

Kim Hansen van Trust Property was besig om vir kliente ʼn huis in Tableview te wys toe hulle ewe skielik ʼn bloedstollende gil gehoor het. Volgens Hansen het sy aan die kliente gesê dat hulle dalk eerder op ʼn ander dag moet terugkom voordat sy hulle laat gaan het.

Hansen het egter teruggekeer om by die bejaarde huiseienaars te hoor wat aan die gang is waarna hulle haar meegedeel het dat hulle huiswerker onverwags in kraam gegaan het. Volgens die egpaar het hulle toe reeds ʼn wyle terug al ʼn ambulans ontbied.

Hansen is na een van die woonstelle agter in die erf waar die huiswerker, Pretty, in die badkamer was. “Die baba was al sigbaar. Ek het vir die eienaars gevra om vir my handdoeke, kookwater en handskoene te bring. Die enigste handskoene wat hulle kon kry was uit ʼn boksie met haarkleursel.”

Die babaseuntjie is sonder komplikasies gebore en Hansen het ʼn stukkie tou by die huiseienaar gekry waarmee sy die naelstring aan ma sowel as die seuntjie se kant afgebind het voordat sy die naelstring gesny het.

“Ek is seker God was saam met ons in daai vertrek want ek het so kalm gevoel.” Volgens Hansen, wat al voorheen as ʼn veeartsassistent gewerk het, moes sy ook seker maak die nageboorte kom uit en is dit gehou sodat ʼn dokter dit kan ondersoek.

Die ambulans het glo eers sowat 45 minute later daar aangekom en die ma en baba is na ʼn hospitaal geneem. “Ek hoop om hulle vandag nog of môre te besoek.” Volgens Hansen het Pretty glo nie geweet sy is swanger nie.

Hansen is die afgelope jaar en ʼn half ʼn eiendomsagent en dit was beslis die eerste keer wat sy so iets beleef het. “Ek het al baie diere gehelp geboorte gee, maar dit gebeur nou nie elke dag nie.”

Volgens Hansen is dit definitief ʼn geval van op die regte plek op die regte tyd wees aangesien sy aanvanklik nie veronderstel was om die kliente na die huis te bring nie, maar toe ingestaan het vir ʼn ander agent wat siek gevoel het.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

24 Kommentare

Alta ·

Dagsê Maroela Media
Baie dankie vir die plaas van hierdie positiewe storie. Net ‘n tegniese punt. Tafelsig en Table View is twee heeltemal verskillende areas in die Kaapse Metropool. Table View, waar hierdie storie afgespeel het, is in die Bloubergarea. Tafelsig is heelwat verder van die see.

Nico Strydom ·

Dagsê Alta
Dankie vir jou boodskap en jammer vir die oorsig. Die berig is gewysig.
Vriendelike groete
Maroela Media

Andreas ·

Skuus Maroela, en nou stel ons belang oor waarom Thuli en Zille tee gedrink het …..!!!!!!!!!!!!!!!!!!!!!!!

???? leser ·

wonderlik om sulke berigte te lees, baie mooi en dankie vir hansen se teenwoordigheid daar

Ja Nee ·

Mooi storie. Pretty het nie geweet sy is swanger nie. Eish die onkunde in ons land verstom my!

Ai Ou Josef ·

Ai ou Josef, Ja Nee het regtig ‘n baie geldige opmerking en ek was ook verstom. Jou reaksie is so ………… verstommend vanuit ‘n totaal ander onverwagte en ongehoorde hoek. Gaan leen gerus ‘n Bybel by iemand en lees weer die storie van Josef en Maria – sy het ten minste geweet sy gaan swanger word en is swanger.

Sterkte en lekker skape oppas.

Ann ·

Ek is jammer, maar hoe kon die vrou nie geweet het sy verwag nie? Het sy dan nog maandstondes gehad en glad nie ʼn boepie gehad nie? En ook nie beweging gevoel nie? Gits … ek was seker te lank terug swanger, is dit nou ook anders?
Ewenwel, dis wonderlik dat iemand haar kon help met die power ambulansdiens wat ons deesdae het.

Hasie ·

Daar is baie gevalle waar vrouens nie weet hulle is swanger nie. Dit is meer as wat ons van weet. Gaan lees op daaroor. DIT GEBEUR… regtig bly iemand was daar om ha te help.

JO ·

So wat nou van die huis – gaan hulle die huis koop? Kind het immers dit gekies. ;)

Juanita ·

All in a day’s work, multitasking! A cool head helped bring about an unforgettable home birth! Kim jy is n yster!

Sê net ·

Ann, ek het ook familie lede wat nie geweet het hulle is swanger tot dat hulle gevoel het, vandag is iets fout. Hulle het nog steeds elke maand hulle gewone sieklus gehad.

John ·

Maar as iets verkeerd geloop het met hierdie pakkie-ontvangs dan moes die die agent groot kommissie betaal het aan hofkostes.

Diefie ·

Wow, jy was baie oulik gewees. Ons het die positiewe gebeurtenisse nodig in ons pragtige land nodig.

Blommie ·

Sjoe Kim jy het n baie goeie daad gedoen, om iemand so by te staan en kop te hou.
Well Done!
Baie geluk Pretty met jou baba seuntjie, hoop hy sal sommer hope geluk bring.

Ep ·

Goede liewe ouers maar is die Kim nie n pragtige vrou …. soe!!!!!!

Anita ·

Baie dankbaar jy kon haar in haar tyd van nood help. Die Here gebruik ons gewone mense as Engele en jy was beslis bedoel om daar te wees. Ek is seker almal is baie dankbaar en dit gee mens hoop te midde van soveel hartseer en afgryslike stories.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.