Agoa-onderhandelinge nou in ‘ekstra tyd’

Rob Davies, minister van handel en nywerheid Foto: Departement van handel en nywerheid

Rob Davies, minister van handel en nywerheid Foto: Departement van handel en nywerheid

Rob Davies, minister van handel en nywerheid, het gesê vooruitgang word gemaak in onderhandelinge om seker te maak dat Suid-Afrika steeds voordele onder die Amerikaanse Wet op Groei en Geleenthede in Afrika (Agoa)- handelsooreenkoms bly geniet.

Davies het gesê onderhandelinge het deur die vakansietyd voortgeduur oor uitstaande kwessies.

“ʼn Sertifikaat oor voëlgriep is reeds aan ons kant uitgereik,” het Davies Maandag gesê. “ʼn Tussentydse ooreenkoms vir maatreëls wat administrasie oor die tariewekwota betref is ook in plek. Vir alle praktiese doeleindes kan ons ook sê dat ons die vark-kwessie opgelos het.”

Volgens hom handel die uitstaande kwessie oor die bakteriële siekte Salmonella. Dié saak is nie tydens ʼn vergadering deur die twee lande op 31 Desember opgelos nie.

Die minister het gesê die onderhandelinge is nou in “ekstra tyd”. “Die volle speeltyd is verby, maar die fluitjie het nog nie geblaas nie. Ons hoop dat die fluitjie nie sal blaas nie, sodat ons veeartseny owerhede, aan beide kante, ʼn geleentheid het om weer te vergader.”

Davies het gesê die volgende vergadering is vir 6 Januarie geskeduleer.

“Ons werk duur voort, al het die fluitjie geblaas of nie. Die gevolge, indien die fluitjie blaas, is dat sekere landbouprodukte, wat tans toegang tot die Amerikaanse mark onder Agoa geniet, nie ingesluit sal word nie, en ons sal die voorwaardes van daardie uitsluiting moet sien.”

Suid-Afrika moes voor Maandag invoere van Amerikaanse hoender, vark en beesvleis toelaat, of die land sou die belastingvrye voordele van sy landbouinvoere onder Agoa verloor.

Davies is bygestaan deur Aaron Motsoaledi, minister van gesondheid, en Senzeni Zokwana, minister van landbou, bosbou en visserye.

Davies het verlede maand tydens die Wêreldhandelsorganisasie (WGO) se konferensie in Nairobi, Kenia, met sy Amerikaanse eweknie, Michael Froman, vergader. Albei ministers het hulleself daartoe verbind om saam te werk om die dispuut op te los. Hulle het gesê hul beamptes sal bly vergader om “die laaste paar uitstaande kwessies” te finaliseer.

Dit het verlede week egter geblyk dat Suid-Afrika moontlik die winsgewende belastingvrye toegang tot landbou-uitvoere aan Amerika sou verloor nadat onderhandelinge op 31 Desember vasgeval het.

Suid-Afrika het verlede jaar landbouprodukte, hoofsaaklik sitrusprodukte en wyn, ter waarde van ongeveer $176 miljoen aan Amerika uitgevoer.

Suid-Afrika het die afgelope paar jaar geen invoere van Amerikaanse hoender-, vark- of beesvleisprodukte toegelaat nie, weens gesondheidsbeperkings.

Lees alle vorige berigte oor Agoa op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Andre van Heerden ·

Mnr Davies dink hy is baie slim.
Gaan nog eendag hard aarde toe kom!

Steven Siege ·

Totaal onbevoeg en te lig vir sulke onderhandelinge, ons sal verplig wees om mielies van die VSA in te voer en nou die gemors spil ook nog

Nico K ·

Ek verstaan ook nie hoekom ons reken die hoender en vark is ongesond nie, maar die Amerikaners is tevrede om dit te eet. Is ons gesondheidsmaatreels nou beter as hulle sin?!

Atas ·

Robste se Leninistiese ekonomiese beleid is besig om Suid-Afrika in ‘n komunistiese hongersnood te dompel. Ons begin die reuk van die “muishondlande” (Lande met geweldige slegte menseregte rekords ens.) waarmee ons, ons in die BRICS bondgenootskap vergeselwe te dra.

JoeV ·

En die publiek bly bekommerd oor die trae vordering. Suid Afrika het geen belang om met westerse lande handel te dryf nie. Hoe minder blootstelling daar is aan die weste, hoe kleiner is die gevaar van inmenging. Dit belemmer Chinese handel, en Amerika is meestal blank, bal reg buite die regering se BBEEE beplanning.
Kan daar regtig in die tyd nog mense wees wat voel dat die regering die welstand van die land in enige besluite in ag neem?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.