Agri Limpopo reageer oor onteiening sonder vergoeding

Argieffoto

Boere in Limpopo is diep bekommerd oor die rigting wat die ANC onder die leierskap van Cyril Ramaphosa ingeslaan het rondom onteiening sonder vergoeding.

“Dit rym hoegenaamd nie met die doelstellings van die Nasionale Ontwikkelingsplan nie,” het Leon Borcherds, president van Agri Limpopo, gesê. “Die NOP is by wyse van ʼn soortgelyke resolusie deur die ANC by sy 2012-konferensie in Mangaung as beleid aanvaar. Die nuutste resolusie oor grond, skiet inteendeel juis die strewe na werkskepping, investering en ekonomiese groei, soos bedoel in die NOP, in die voet.”

Borcherds voeg by beleidsonsekerheid is een van die grootste struikelblokke in die weg van ekonomiese groei, en die ANC het by uitstek deur sy resolusie oor onteiening sonder vergoeding, omvattende verwarring en beleidsonsekerheid gesaai.

“Limpopo-boere, wat reeds sedert 2012 op die voorpunt staan in die implementering van die Hoofstuk 6-grondhervormingsmodel van die Nasionale Ontwikkelingsplan, het tans geen duidelikheid of selfs rigtingwysers oor die mees basiese vrae wat enige belegger sou vra nie, soos:
– gegewe die botsende en wedersyds uitsluitende aard van die onteiening-sonder-vergoeding-resolusie, en die grondhervormingsmodel van die Nasionale Ontwikkelingsplan, het eersgenoemde laasgenoemde nou vervang?
– moet die tersaaklike vennootskapgebaseerde landbou-ontwikkelingsprojekte nou gestaak word?
– hoe gaan grond wat sonder vergoeding onteien moet word, geïdentifiseer word, of is alle plase op risiko?
– geld dit net vir landbougrond?
– hoe hoop die ANC om in die internasionale gemeenskap, waar beide potensiële beleggers en Suid-Afrika se uitvoermarkte lê, by die eiendomsklousule (art 17.1 en 2) van die Universele Deklarasie van Menseregte verby te kom?”

Borcherds meen hierdie soort onsekerheid is dodelik vir beleggersvertroue en sal in die landbougedrewe ekonomie van Limpopo ʼn vernietigende impak op werkskepping hê wat armoede tot nuwe vlakke sal laat styg.

“Boere in die provinsie is veral verstom dat die ANC glo dat dieselfde rampspoedige beleidsrigting wat die Zimbabwiese ekonomie, geldeenheid en sosiale kohesie vernietig het, in Suid-Afrika ʼn ander uitkoms sal hê. Die ware oorsake van die legitieme frustrasies van hoopvolle begunstigdes van grondhervorming, vir wie die pas daarvan te stadig is, is glad nie by die ANC se konferensie aangespreek nie. Dit het niks met die vrywillige verkoper-koper-beginsel te doen nie, maar alles te doen met ʼn hopeloos onbekwame, korrupte en nepotistiese koper – die staat!”

Hy voeg by daar is geen tekort aan geld nie; die geld word wanaangewend. “Daar is geen onwilligheid by grondeienaars om te verkoop nie; daar was trouens nog nooit soveel plase in die mark soos nou nie. Die markmeganisme het tot dusver nie gewerk nie, net omdat dit nog nie behoorlik op die proef gestel is nie. Daar kan geen probleem met prysvasstelling wees nie, as die staat – soos Agri Limpopo in 2005 al voorgestel het – die waardasies van banke en ander finansiëledienste-instellings gebruik nie. As ʼn bank bereid is om teen ʼn bepaalde waarde te finansier, is die risiko dat die staat te veel betaal, uiters beperk.”

Borcherds het bygevoeg plase wat reeds in die herverdelingsprogram aangekoop is, word nooit aan die begunstigdes oorgedra nie. “Daardie boere kan nie finansiering kry nie, en bly aan onbekwame amptenare uitgelewer. Daardie plase lê soos slagvelde agter die departement, en die minister het self erken dat meer as 90% daarvan misluk het. In Limpopo, soos elders in Suid-Afrika, sal dit baie meer kos om daardie plase weer produktief en winsgewend te kry as wat die staat aanvanklik daarvoor betaal het. Onteiening sonder vergoeding is bloot ʼn rookskerm om die ANC se pad van vernietiging in sy grondhervormingsprogramme te verbloem.”

Borcherds meen daar is net een rede waarom grondhervorming tot dusver ʼn mislukking is: “Dis omdat die ANC nie die politieke of morele wil het om dit te laat werk nie. In die proses word met die potensiaal, inkomste en welsyn van swart boere gedobbel, en word stabiliteit en voedselsekerheid in gedrang gebring.

“Geen sektor van die ekonomie kan landelike armoede meer toereikend aanspreek as landbou nie, maar Suid Afrika word van daardie geleentheid ontneem deur swak besluite oor grond.

“Daar is ʼn alternatief. Waar die vennootskapgebaseerde grondhervormingsmodel van die Nasionale Ontwikkelingsplan geïmplementeer is, is die suksessyfer eksponensieel hoër as by enige staatspoging. Dit werk. Dit het te stadig gevorder omdat die departement grootliks afwesig is in die inisiatiewe, en amptenare nie hulle kant bring nie. Die staat was tot dusver ʼn swak of afwesige vennoot, en die ANC het nooit enige erns gewys om sy eie beleid te implementeer nie.”

Borchers het bygevoeg Suid-Afrika hoef nie die pad van Zimbabwe te stap nie. “Ons kan grondhervorming laat werk en in een geslag ʼn klas van welvarende swart boere skep bloot deur die grondhervormingsmodel van die Nasionale Ontwikkelingsplan toe te pas. Daar is genoeg hoë potensiaal landbougrond reeds deur die staat gekoop, wat tans onproduktief lê.

“Agri Limpopo doen ʼn beroep op die ANC en die regering om hul volledige aandag te fokus op die produktiewe benutting van hierdie, en ander landbougrond in staatsbesit, en op te hou om populistiese uitsprake oor grond te gebruik vir politieke gewin. Produktiewe benutting van genoemde grond sal foute van die verlede regstel en help dat die ekonomie en voedselsekerheid nie skade ly nie – voorwaardes vir onteiening sonder vergoeding wat herhaaldelik deur meneer Ramaphosa in toesprake gestel word! Die nuwe president van die ANC het die geleentheid om homself, sy party en die regering te verbind tot ekonomies volhoubare landbou-ontwikkeling deur konstruktief die plan in Hoofstuk 6 van die NOP te ondersteun. Gesprek met landbouleiers in hierdie verband, sal die sleutel tot grondhervormingsukses wees vir meneer Ramaphosa.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

23 Kommentare

LR ·

Om grond sonder vergoeding te onteien moet die grondwet gewysig word. Dit kan slegs met n 2/3 (66.667%) meerderheid in die parlement geskied. As ek my syfers reg het, het die ANC tans 62% stemme. Die EFF het 6%, dus om n 2/3de meerderheid te kan hê sal die EFF se stem moet bykom. Dink julle dis haalbaar.

Daan ·

Miskien net miskien kan ons ook dan die beste vrugte en groente in sa kry huidiglik kry ons die swak graad en die beste produkte word Europa toe uitgevoer vir groter winste so die storie van voedsel sekerheid glo ek nie.

Vryheid ·

Daan wat het dit nou te doen met die bogenoemde onderwerp. Natuurlik word die beste produk uitgevoer. Die mark is vry om jou produk te verkoop teen die hoogste wins. Ek neem aan jy boer nie dus maak jy so n stelling. Die land se ekonomie sal in duie stort as grond sonder vergoeding geimplementeer word, nie eers te praat van die geweld wat daarmee gepaard sal gaan nie. Geen boer wat ek ken sal sy grond net oorhandig nie.

Boerseun ·

jy weet nie waarvan jy praat nie. My top produk gaan jhb mark toe, en op kontrak na retailers toe. Oorskot gaan bakkie mark toe . Dis die goed wat jy op die straat hoek koop. Selfde produk vanaf dieselfde land aan SA gelewer.

Karoo Boer ·

Daan, jy is baie oningelig. Wat ookal uitgevoer word, word nie deur die produsent bepaal nie. Die kwaliteit van goedere op die rak het boonop niks te doen met voedselsekerheid in ‘n land nie. Die regering moet net gunstige toestande skep vir landbou. Spesifiek in ‘n land soos Suid Afrika waar ander faktore soos reenval en klimaats toestande dit alreeds baie moeilik maak.

Niklaas ·

Neewat ou CR gaan ook probleme vir ons blankes beteken
Selfde soos voriges wat die blanke wil vernietig met goedkeuring van de klerk en sy anc meeloper roelf meyer.Wonder hoeveel het de klerk en kie in hulle sakke gesteek met die uitverkoop trasaksie van SA

Anoniem ·

Dit is logies dat die EFF sy stem by die ANC gaan gooi as dit oor grondhervorming gaan. Die EFF se dan self vat net die grond en ek glo as ons bietjie dieper gaan delf dan sal ons sien die EFF is n tak van die ANC om geweld en verwarring te saai sodat die aandag nie op die ANC gerrig is nie.

Nee wat ·

Nee L. Dit sal rampspoedig wees om te dink. Dit is net so goed ek gooi jou uit jou huis en laat jou in die buite kamer aanbly sodat jy die nuwe eienaar kan leer hoe dinge om die werf werk. Daar sal GEEN positiewe uitkoms wees indien grond onteien word nie. Geen eiendom sal enige waarde meer he nie.

LB S ·

Danien, presies wat ek nog altyd sê. EFF doen net die vuil aanvoorwerk vir die ANC.

Vermeende ·

Maar wat stel die landbou unies voor moet gedoen word, ons almal ken die gevare en bespreek onteiening met elke geleentheid. Le die andwoord in gesprekvoering met die ANC regering of sal al die leiers ons maar net troos met die grondwet?

Johann Marx ·

Die A&C se probleem is dit……….om aan bewind te bly moet hulle DOEN wat die EFF nog net oor dreig. 2019 se verkiesing lê om die draai, en 20 jaar se leë beloftes koop nie meer stemme nie.

Callie ·

Alle boere, neem groot verbande op jou plaas en laat die geld verdwyn. As hulle nou onteien dan sink die banke saam

Anton Horn ·

Verkeerd Callie, alle leningsooreenkomste tussen banke en kliënte het n klosule waarin die klìënt steeds aanspreeklik bly vir die skuld selfs al sou die grond wettig onteien word.

bgj van der westhuizen ·

wel boere wat meer as een plaas het wees verseker hulle gaan van jou plase wat en boerseun as jy se die groente wat ons te koop kry is die beste was julle oes dan weet ek nie so mooi nie wand die wat ek sien te koop se gehalte is maar swak

Alida 2 ·

Party goed moet liewer ongesê bly.
As bv. geen vrugte meer uitgevoer word nie gaan baie werksgeleenthede verlore gaan en bome sal afgesaag moet word. SA het nie die kapasiteit om alles wat geproduseer word teen winsgewende pryse te verbruik nie.
Net soos met voertuie kos kwaliteit voedsel ook meer.
As jy net swak gehalte sien is dit moontlik omdat jy net vir winskope kyk.
Moenie iemand kritiseer as jy nie al in sy skoene geloop het nie.

Boervrou ·

Grond moet in die regte lig gesien word.
Huidig is dit ‘n politieke kwas waarmee heuning om mense se monde gesmeer wordd.
Grond beteken niks. ‘n Graafvol elke dag gaan nie jou honger stil nie.
Die probleem is dat mense dink “grond” is rykdom. Dit is net wat jy daarmee doen wat inkomste lewer. Onbewerkte grond bring nie geld in nie.
Om inkomste op grond te genereer verg baie harde werk, vertroue in die Skepper, en moed om aan te hou. Daar is baie terugslae wat hanteer moet word. Alles gaan nie maklik nie.
Om gevoude hande op grond te sit gaan geen voorspoed bring nie.
Wat beteken ‘n myn as die mineraal nie ontgin word nie? NIKS
Wat help ‘n winkel wat geen voorraad het nie? NIKS
Dit is net wat by die plaashek uitgaan en sinvol bemark kan word wat maak dat jy op grond kan oorleef.
Die probleme gaan nie met grondonteiening opgelos word nie.
Daar gaan nie skielik huise vir bv. 100 begunstigdes groei nie. Huidig is die gras verdroog, daar is nie eers weiding vir hulle vee nie. As daar geproduseer word gaan die wins wat oorbly ook te min wees om so te deel dat almal genoeg het om van te lewe.
Daar moet op ekonomiese groei gefokus word sodat werk beskikbaar is.

Johannes Meintjes ·

Daar is inderdaad al baie navorsing gedoen rondom landbou-uitbreiding en landbou voorligting in SA. Daar is baie aan die gang om opkomende boere te probeer onderrig en te bemagtig. Die uitdaaging om toegekende grond effektief en produktief te bewerk, geniet in al ons provinsies aandag, en instansies soos TLU en AgriSA gee perinent aandag daaraan. Waarom wil die SA regering dan oplsuit en skynbaar moedswillig aanhou moeilikheid soek oor grond?

Kobus ·

Johannes, wil jy sê jy weet regtig nie wat is die antwoord op jou vraag nie?

Sophie ·

Hoe hartseer om berig en kommentaar te lees en nêrens word erkenning gegee aan God wat ons tot hier gehelp het nie. Asof ons in ANC hande is en klaar. Kom ons stel ons vertroue in God. Kom ons eer HOM in ons gesprekke oor S. A.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.