Agri SA en AfriForum teken ooreenkoms oor gemeenskapsveiligheid

Argieffoto: Nico Strydom

Argieffoto: Nico Strydom

Die burgerregte-organisasie AfriForum en die landbou-organisasie Agri SA het vandag in Pretoria ʼn samewerkingsooreenkoms onderteken ter bevordering van gemeenskapsveiligheidsinisiatiewe in landelike- en dorpsgebiede, sonder om mekaar se onderskeie werkterreine te betree.

Volgens Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, is die ooreenkoms ʼn groot stap om veiligheid te help verseker in gemeenskappe en gebiede wat onder die misdaadkrisis in die land ly.

“Hierdie ooreenkoms tussen AfriForum en Agri SA vloei voort uit die feit dat organisasies in die burgerlike samelewing ʼn verpligting teenoor die publiek het om seker te maak dat gemeenskapsveiligheidsaksies so doeltreffend moontlik aangepak word,” het Kriel gesê.

AfriForum is ook volgens Kriel in gesprek met ander rolspelers wat betrokke is by gemeenskapsveiligheid, met die oog op soortgelyke ooreenkomste.

Kobus Breytenbach, voorsitter van Agri SA se Landelike Veiligheidskomitee, het gesê “dat daar met die ooreenkoms gepoog sal word om verwarring, veral by landbougemeenskappe, uit te skakel oor die hantering van die veiligheidskwessie. Agri SA en sy provinsiale organisasies het die verantwoordelikheid om landelike veiligheid tot op boereverenigingvlak te hanteer  en binne die Prioriteitskomiteestelsel met die polisie uit te klaar.”

Hy het ʼn beroep op boerderygemeenskappe gedoen om in noue samewerking met hulle onderskeie plaaslike boereverenigingstrukture die veiligheidskwessie te hanteer.

Die ooreenkoms behels onder meer dat waar die onderskeie partye oor gemeenskapsveiligheidstrukture beskik wat aangrensend is,  kommunikasiekanale gevestig moet word om misdaad op ‘n gekoördineerde wyse te bekamp. Om duplisering te voorkom, onderneem die partye om nie mededingende strukture te vestig in gebiede waar een van die partye reeds ʼn gemeenskapsveiligheidstruktuur het wat goed werk nie.

In die praktyk beteken dit dat AfriForum hom sal toespits op dorpsgebiede en landelike gebiede waar daar nie funksionerende gemeenskapsveiligheidstrukture bestaan nie en Agri SA op die landelike gebiede.

Die partye sal ook daarna streef om saam met ander rolspelers op ʼn ad hoc- basis forums in gemeenskappe tot stand te bring waar daar spesifieke probleme ontstaan wat ʼn wye aantal rolspelers raak en ʼn gesamentlike strategie nodig is om die probleem op te los. Beide partye gee ook in die ooreenkoms erkenning aan mekaar se unieke rolle en bestaansreg.

Die ooreenkoms behels ook dat Agri SA en AfriForum op nasionale, sowel as provinsiale vlak, ten minste twee keer per jaar sal vergader om samewerking oor sake van gemeenskaplike belang te bespreek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

HEVW ·

Ai, dit is tog baie goeie nuus. Ek sien hierin is gelee n baie goeie samebindende faktor t,o.v. van ons volkslewe. Boere moet besef indien hul onderskeie boereverenigings inskakel dan behoort hul bepaalde verpligtinge na te kom soos onder andere veiligheidsstrukture ,verpligte veiligheidsprosedure soos inoefening van handeling tydens aanvalle asook wapenhantering. en dat hul van tyd tot tyd onderhewig is aan inspeksies.

HEVW ·

Wat het van my kommentaar geword? U het dit vir n oomblik geplaas en nou is dit verlore
. Ek dink nie daar is enigiets negatief nie. Dit kan as opbouend gesien word.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.