Agri SA: ‘Landbousektor moet ook prioriteit wees met inentings’  

(Argieffoto: GCIS)

Agri SA het ’n beroep op die regering gedoen om die landbousektor se pleidooi te oorweeg om geprioritiseer te word met die toediening van die Covid-19-entstof.

“Die nasionale regering, wat verantwoordelik is vir die uitrol van die entstofprogram, het gesondheidswerkers, persone bo die ouderdom van 60, en meer onlangs onderwyspersoneel, geprioritiseer vir inenting, sonder om noodsaaklike werkers soos dié in die landbousektor in ag te neem,” sê Christo van der Rheede, uitvoerende direkteur van Agri SA.

Hy het daarop gewys dat Suid-Afrika, veral sekere provinsies soos Gauteng, die Vrystaat en ander, tans steier onder die derde vlaag Covid-19-infeksies en dat die infeksiekoers oral in Suid-Afrika teen ’n kommerwekkende tempo toegeneem het, veral nou in die wintermaande.

Volgens Statistieke Suid-Afrika staan die land se bevolking tans op 59,62 miljoen. “Dit is die landbousektor se verantwoordelikheid om genoeg voedsel te produseer ten einde nasionale voedselsekerheid te handhaaf,” het Andrea Campher, Agri SA se risiko- en rampbestuurder, gesê.

“Die sektor het verlede jaar uitnemend daarin geslaag, en sal dit weer doen, aangesien ’n rekordoes vanjaar verwag word.”

Boere en plaaswerkers, wat hoofsaaklik in landelike gebiede woon en meer kwesbaar vir die derde vlaag Covid-19-infeksies is, is verantwoordelik vir voedselproduksie ongeag hierdie blootstelling, sê Van der Rheede. “Aangesien hulle ’n kritieke rol in voedselsekerheid speel, doen Agri SA ’n beroep op die regering om hierdie sektor ook ingevolge die nasionale ontplooiing van die entstof te prioritiseer.”

Aandag moet ook gegee word aan die gebrek aan en swak toestand van infrastruktuur wat die uitrol van die entstof in hierdie gebiede kan kniehalter. “Agri SA is bekommerd dat, indien noodsaaklike werkers soos boere en plaaswerkers nie deur die regering geprioritiseer word nie, dit ’n nadelige uitwerking kan hê op die uitsonderlike bydrae van die sektor in terme van werkskepping, buitelandse valuta-verdienste en voedselsekerheid vir die land as geheel,” het Campher verder verduidelik.

Agri SA het boere en plaaswerkers ouer as 60 aangemoedig om vir die entstof te registreer, ten einde lewensverlies as gevolg van die pandemie te verhoed.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

DIABLO ·

As die regering hulle agterente in rat sit, dan is dit nie nodig om te prioritiseer nie. Maar nee, hulle “hyena” nog rondom wie se pond vleis die entstof is! In Nieu Zeeland is almal klaar in ge ent.

Karin ·

NZ staan nou eers op 891 000 mense wat ingeent is, met ‘n populasie van 4.8mil. Dit is volgens hulle regering se webtuiste.

Eugene ·

Nee nou raak dit belaglik. Die regte ding is om alle mense ongeag kleur of roeping in te ent. Nie hierdie paar, dan daardie paar nie

Francois Le Cochon ·

Waar ek ingeent was is alle mense ongeag kleur of roeping ingeent.

Hannes ·

En julle glo nogsteeds die entstof is veilig, terwyl in Engeland op die stadium meer mense in die hospitaal beland agv die entstof, as covid pasiënte!!

Karin ·

Die inenting is groot gif, moet nie alles glo wat die mediese mense en die regerings sê nie!

Pierre ·

Jou argument versterk inentings, daar is minder mense in die hospitaal weens Covid as die 0.0001% agv Ineting komplikasies ek sal se die intentings doen hulle werk en red lewens.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.