Agri SA: Minimumloon saboteer werksgeleenthede

Foto ter illustrasie. (Foto: Pixabay)

Menseregte in die landbougemeenskap is vir Agri SA ononderhandelbaar, maar hulle keur die nuwe minimumloon ten sterkste af. “Daar is ʼn wanopvatting dat boere hul mense sleg behandel, maar die waarheid is dat boere vandag nie kan bekostig om ʼn slegte verhouding met hul werkers te hê nie. Ons lede doen inderwaarheid uitsonderlike moeite om aan alle wetgewing te voldoen, veral arbeids- en grondhervormingswette,” sê Christo van der Rheede, uitvoerende direkteur van Agri SA.

Boere word tans deur verskeie uitdagings in die gesig gestaar, waaronder die Covid-19-pandemie, droogtes, klimaatsverandering, duurder insette weens die dalende rand, ʼn dreigende verhoging in watertariewe, die dieselprys wat onlangs skerp gestyg het, die Landbank se dreigende bankrotskap en Eskom se 15%-elektrisiteitsverhoging.

Van der Rheede voer aan dat dit die regering se werk is om die ekonomie oop te stel, nie om dit nog meer te onderdruk nie. Dus moet hulle die arbeidswette verslap. “Die minimumloonverhoging van 16% het die teenoorgestelde bereik. Werksverliese gaan vermeerder en die mense wat die ergste geraak word, is kontrak-, seisoens- en informele werkers wat juis die weerloosste is.

“Ons beleef die styging in misdaad, armoede en die maatskaplike verval op die platteland. Plaasaanvalle, veediefstal en veral koperkabeldiefstal is ʼn groot bron van bekommernis onder boere. Daar is reeds R11,1 miljoen van ons land se werkersmag sonder werk en die mense word al hoe meer desperaat.”

In ʼn meningsopname deur Agri SA onder 577 boere het 549 (95%) van boere gesê die onlangse verhoging in minimumlone gaan hul loonbegroting vir 2021 oorskry. Altesaam 456 deelnemers (79%) verwag dat hulle mense sal moet afdank. Onder dié 456 deelnemers is daar ʼn moontlikheid van 4 384 werksverliese.

Van der Rheede sê die proses om vir kwytskelding van die minimumloon aansoek te doen is ingewikkeld en omslagtig. Dit gaan dus nie talle boere wat daarvan afhanklik is, aanspoor om die regte proses te volg nie.

Die span van Agri SA wat boere help om die minimumloonverhogingskrisis te trotseer is Kulani Siweya, landbou-ekonoom; Christo van der Rheede, uitvoerende direkteur; Johan Wege, voorsitter van die sentrum van uitnemendheid oor arbeid, en Lebo Sethusha, lid van die sentrum van uitnemendheid oor arbeid.

“ʼn Nasionale minimumloon is nie die antwoord nie. Die regering moet eerder die hand uitsteek en meer werk en omstandighede skep waarin werkskeppers kan floreer. Agri SA wil die boere op die plase hou, maar koste wat net styg, gaan ʼn ernstige, negatiewe invloed op voedselsekuriteit en indiensneming hê,” sê Van der Rheede.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

5 Kommentare

jongste oudste gewildste
Pieter

Laat hulle slim ANC menister vir hulle dan werk gee. Haar mond is groot want ons belasting betalers betaal haar om al die twak te praat.

Ou bees

Hulle gee nie om vir die land se ekonomie nie gaan net oor stemme wat so gewerf word vir die verkiesing

Francois Le Cochon

So, ‘n boer wat R65 miljoen vir 10 stropers betaal kan nie die ekstra R3 per uur bekostig nie. So ook die honderde boere wat met hul vliegtuie en helikopters na NAMPO se boereskou vlieg. Koop een stroper of vliegtuig minder, en betaal jou werkers. As jy dit nie kan doen nie, is jou boerdery nie meer volhoubaar nie, het jy uitgeboer, en moet ander werk gaan soek, soos baie ander mense.

jzjz05

jammer die ANC word bo SA gestel ,hulle sal eerder SA verwoes as om die ANC tweede na suid afrika te stel