Agri SA het in ʼn verklaring gesê die organisasie is bemoedig deur Dinsdag se produktiewe vergadering met senior ANC-beamptes rakende landbougrondhervorming en landbou-eiendom.
Die organisasie het bygevoeg hy waardeer spesifieke beleidsverbintenisse wat deur die ANC gemaak is. Dit sluit in onder meer:
• Geen grondgrype gaan geduld word nie.
• Die beskerming van produktiewe landbougrond sal prioriteit geniet.
• Die optimalisering in die gebruik van onderbenutte grond in afgeleë landelike gebiede.
• Eiendomsregte sal ʼn prioriteit in landbougrondontwikkeling wees.
• Die regering finaliseer ʼn oudit van regeringsgrond vir die oordrag aan swart boere.
• Die afskop van produksie op 4 000 plase wat tans in regeringsbesit is om kommersiële waarde te ontsluit en boerderygeleenthede te skep.
Agri SA en Agbiz het met ANC-adjunkpresident David Mabuza en ANC-tesourier-generaal Paul Mashatile vergader. Hierdie vergadering is bykomend tot die vergadering tussen president Cyril Ramaphosa en Agri SA-president Dan Kriek wat Dinsdag in Kaapstad gehou is.
“Die landbousektor vra vir ʼn samewerkende raamwerk vir groei, soortgelyk aan dit wat die motorbedryf reggekry het,” sê Francois Strydom, voorsitter van Agbiz. “Al die rolspelers binne die sektor is gretig om die proses vorentoe te neem.”
Die interministeriële taakspan op grondhervorming is ook by die vergadering bespreek; ʼn uitnodiging is aan georganiseerde landbou gerig om drie verteenwoordigers te delegeer. “Die geskiedkundige vergadering skep ʼn fondasie vir ʼn volhoudende vennootskap met die oogmerk om landbou volhoubaar te transformeer en te laat groei,” het Omri van Zyl, uitvoerende direkteur van Agri SA, bygevoeg. “Ons sal egter gefokus bly om tasbare voordele vir produsente te onderhandel.”
Almal het saamgestem dat dié faksies wat moedswillig die gemeenskap oor die grondkwessie polariseer, teengestaan moet word. “Die ondernemings van die ANC is belangrik, maar Agri SA is ook verbind tot die inwerkingstelling van ʼn pragmatiese plan om die sektor te groei en om swart boere by te staan,” het Christo van der Rheede, adjunk- uitvoerende direkteur van Agri SA, gesê.
O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.
59 Kommentare
Ek verstaan nie hoekom almal so opgejaag word oor die kwessie nie. Hoeveel van die mense op die forum is werklik boere. ‘n Boer wat sy sout werd is het nie tyd vir die strooi nie. Hy weet waar hy staan en gaan sy man staan. Dit is die gekef van die oningeligtes en ongelowiges wat hulle skuldg maak aan snert.
Kom ek sê vir julle, die 2 vergaderings wat AgriSA vandag met CR en David Mabuza oor grondhervorming gehou het, gaan niks oplewer nie. Al het AgriSA vooraf beduie hulle gaan nie terug hou nie, maar reguit praat. CR en Mabuza gaan dalk vir AgriSA nie eens paai nie, maar sê gebeure moet hul gang gaan. Werk saam en moenie teen die prikkels skop nie, ongeag die bostaande in die berig. Die feite en realiteite is op die tafel, soos per die berigte oor plaasbesetting vandag hier op Maroela. Glo mens hierdie berigte op Maroela of glo mens die onderneming… Lees meer »
Geen grondgrype??? LMGA!! Gaan vra vir Pieter Boshoff daaroor!!!!
Soos altyd is daar mense wat skree en raas. En dan is daar Agri SA wat iets doen. Almal saam raas en nie ‘n idee het waaroor dit gaan nie moet maar raas. Die grootmense sal rustig gesels en die werklike probleme oplos.
afri sa publiseer asb die besonderhede van die boere wat julle verteenwoordig met die entiteitsbelange sodat die onderskeid duidelik getref kan word oor vir wie daar reeds vrystellende onderhandelinge is en die kollaterale skade waarvolgens ander ter gronde moet gaan.