Agri SA verwelkom hoëvlak-veroordeling van plaasaanvalle

Blomme en kruise word neergelê ter nagedagtenis aan die slagoffers van plaasaanvalle en -moorde. (Foto: Verskaf)

Die landbouorganisasie Agri SA het die hoëvlakaandag wat plaasaanvalle oënskynlik die afgelope ruk geniet, Donderdag verwelkom.

Daar was reeds verskeie betogings teen plaasaanvalle en -moorde en daar was vroeër ook ʼn debat waartydens die moorde en aanvalle deur al 14 politieke partye in die parlement veroordeel is.

“Agri SA verwelkom die veroordeling deur verskillende regeringsamptenare oor hierdie ernstige kwessie. Dit lyk of daar ʼn nuwe vlaag veroordeling van plaasaanvalle is, asook wye erkenning dat dit ʼn probleem is. Dit gee nuwe momentum aan pogings op regeringsvlak om oplossings te vind,” het Pierre Vercueil, president van Agri SA, gesê.

“Die toets gaan uiteindelik wees of die regering ferm gaan optree en bestaande beleid en die landelike veiligheidsplan ten volle in werking gaan stel om plaasaanvalle te stuit.”

Die organisasie het ook ʼn aankondiging van adj.pres. David Mabuza verwelkom dat Vrydag met die interministeriële komitee oor grondhervorming en landbou vergader gaan word om oplossings vir die onlangse toename in plaasmoorde en gewelddadige aanvalle te bespreek.

“Ons verwelkom ook die adjunkminister en die minister van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling [Thoko Didiza] se veroordeling van plaasaanvalle en hul erkenning van die belangrike rol wat landbou in die ekonomie speel,” het Vercueil gesê.

Mabuza het op die vooraand van die parlementêre debat gesê hy het met skok en ontsteltenis verneem van die naweek se moorde op Glen Rafferty (63) en sy vrou, Vida (60), op hul plaas in Normandien naby Newcastle in KwaZulu-Natal. Mabuza het die gewelddadige aanvalle op boere en mense in landelike boerderygemeenskappe veroordeel en die belangrikheid van die landbousektor vir die ekonomie van Suid-Afrika benadruk. Hy het ook gesê alle lewens maak saak.

Die minister van polisie, Bheki Cele, was intussen gister in Normandien waar hy onder meer die familie van die vermoorde Rafferty-egpaar besoek het en met landbouorganisasies en gemeenskapspolisiëringsgroepe vergader het.

Volgens Kwanalu, ʼn filiaal van Agri SA, het boere en plaaswerkers die geleentheid gekry om hul kommer oor die aanvalle met die minister te deel. Cele het onderneem om oor twee weke weer terug te keer om vas te stel watter vordering intussen gemaak is.

Agri SA sê die voorsitter van die portefeuljekomitee oor landbou, Inkosi Mandela, het in die parlement gesê plaasaanvalle ondermyn voedselsekerheid, werkskepping en die nasionale ekonomie en dat boere en plaaswerkers – weens hul afgesonderdheid – veral kwesbaar is. Die organisasie sê hy stem hiermee saam en dat dit dus belangrik is dat gemeenskappe beskerm word.

Volgens Vercueil is die landbou een van die ekonomiese bedrywe waarmee die meeste ander Suid-Afrikaners elke dag ʼn afspraak het wanneer hulle aan tafel aansit.

“Die belang om boere en plaaswerkers as ʼn bate vir die land te beskerm weens hul bydrae tot nasionale bestendigheid, kan nie betwis word nie.

“Agri SA gaan dus saam met die polisie werk om te verseker die landelike veiligheidsplan word behoorlik in werking gestel en ʼn landbouvriendelike reserviste-stelsel word op die been gebring.”

Die organisasie sê hy sien uit na groter samewerking tussen die landboubedryf en polisie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Werner ·

Agri SA sal enige iets wat van die regering se kant af kom verwelkom of dit nou opreg is of nie . Die gatkruipers

Pieter ·

Wow, hoëvlak veroordeling!!! Dit gaan darem nou baie lewens red!!!

Friedrich ·

Stel komandos weer in. Gebruik die weermag om plase te patrolleer want die polisie is hopeloos

Anoniem ·

Hierdie storie bly maar net dieselfde… heeltyd n veroordeling, dan n verwelkoming daarvan… ons sien en hoor dit oor en oor maar daar word geen daad by woord gevoeg nie en bly dit maar net dieselfde…. regtig doen iets om ons te wys julle is ersntig, ander bly ons maar net in sirkels gaan!

Cheryl ·

Waar is die kerke? Waarom word daar nie landwyd dae van aanbidding gehou nie? Hierdie is demoniese aanvalle. Politiek gaan niks hieraan kan verander nie.

Oom Hennie Pennie ·

Waarom eers ‘n komiktee? Kommandos moet terug gebring word met onmiddelike effek

johan ·

Hulle het nie geld om dit te doen nie en ook nie die wil nie want sien ons boere moet uit.

daniel ·

Die regering stel min belang in n oplossing. Die mense self sal moet begin dink hoe om die plaasbewoners op n gereedheid vlak en paraat te kry.

Jaco ·

Of die ANC dit nou wil hoor of nie. Mense moet eet en sonder boere gaan ons honger gaan.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.