Agri SA verwelkom vrystel van staatsgrond vir grondhervorming

(Argieffoto: StatsSA)

Die landbouorganisasie Agri SA het die aankondiging van die minister van landbou, Thoko Didiza, dat 700 000 ha staatsgrond vir landboudoeleindes beskikbaar gestel gaan word, verwelkom.

Didiza het Donderdag die proses bekend gemaak wat opkomende boere moet volg om aansoek te doen vir die gebruik van beskikbare staatsgrond.

Willem de Chavonnes Vrugt, voorsitter van Agri SA se Grondsentrum vir Uitnemendheid, het egter reeds gewaarsku dat daar teen korrupsie gewaak moet word en dat die keuring van begunstigdes om te verseker dat grond produktief vir landbou gebruik word, baie belangrik is.

“Dit is jammer dat distriksgrondhervormingskomitees waarop georganiseerde landbou ook sitting gehad het, nie meer in werking is nie. Die private sektor en georganiseerde landbou kan ʼn baie waardevolle rol speel in die keuring van begunstigdes en die ondersteuning van sodanige begunstigdes.

“Agri SA sal graag wil sien dat die distriksgrondkomitees sodanige kundigheid aan boord neem,” het De Chavonnes Vrugt gesê.

Agri SA het ook die opsie om die grond te koop verwelkom, maar sê die departement het ʼn swak rekord met die bestuur van huurkontrakte.

De Chavonnes Vrugt sê Agri SA neem kennis van Didiza se voorneme om binne 30 dae skriftelike huurkontrakte met begunstigdes aan te gaan en sê vantevore het hulle geen skriftelike ooreenkoms gekry nie. Agri SA is ten gunste van die toekenning van voltitel aan begunstigdes.

Agri SA sê die onderneming dat die grond produktief vir landboudoeleindes bestuur gaan word, is ook positief.

De Chavonnes Vrugt maan egter dat landbougrond ʼn skaars hulpbron is. Dit is dus belangrik dat die beskikbare grond op ʼn volhoubare wyse produktief aangewend moet word.

Die regering sal binne die volgende twee weke advertensies vir 896 plase, met ʼn oppervlakte van 700 000 ha, wat nie behoorlik gebruik word nie of braak lê, uitreik.

Hiervan is 43 000 ha in die Oos-Kaap, 8 333 ha in die Vrystaat, 3 684 ha in KwaZulu-Natal, 121 567 ha in Limpopo, 40 206 ha in Mpumalanga, 12 224 ha in die Noord-Kaap en 300 000 ha in Noordwes.

Geen grond in Gauteng of die Wes-Kaap sal geadverteer word nie.

Ingevolge die ooreenkoms wat suksesvolle aansoekers met die staat aangaan, kan die grond vir 30 jaar gehuur word, waarna die huurder die opsie het om die grond te koop. Die grond mag ook onder meer glad nie onderverhuur word nie, alle infrastruktuur moet onderhou word en ʼn maandelikse bedrag huurgeld moet in ooreenstemming met die grond se waarde aan die staat oorbetaal word.

Begunstigdes moet verpligte opleiding ondergaan, waaronder intreevlak-opleiding oor hul kommoditeit van keuse, asook basiese rekordhouding, finansiële bestuur en ondernemingsontwikkeling.

Indien daar nie aan al die voorwaardes voldoen word nie, kan die staat die ooreenkoms opskort.

Volgens die departement van landbou het die regering sedert Februarie vanjaar reeds 135 117 ha grond aan 275 boere beskikbaar gestel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Persheks Adri ·

En hoe lyk daai grond wat van Februarie af oop is? Hier gaan plakkers wees en nie boer nie. Korrupsie gaan ook daar wees dit weet ek sommer.

koos10 ·

Gewaak word teen korupsie. Ek sal geskok wees as daar geen korupsie plaasvind nie. Daar is mos klaar hulp en geld belowe vir die ontvangers van die plase. Nou ja, in SA gaan geld en korupsie mos hand aan hand!

O ja, daar is mos ook ‘n verkiesing voor die deur, en die aksie van die regering laat dit lyk asof hulle aanvaar het dat OSV nie regtig kan slaag nie, maar nogtans hulle vorige beloftes moet nakom.

Aai ·

Nou kan hy vir die 100 wat saam met hom bly ‘n groente tuin begin.

Cornelius ·

Wishful thinking. Daar gaan geen ontwikkeling op daai staat grond kom nie. Die nuwe huurders gaan net sit en niks doen nie. Dis mos die Afrika styl.

Adeline ·

Hierdie is verreweg die lag wekkendste berig want hoe kan enigiemand verwag dat daar geen korrupsie gaan plaasvind waarmee die voos vrot korrupte spul besig is of hulle hande kan op lê nie – dit is absolute ‘n gekke paradys van hoop. soos ook in die kommentaar verwys word – toekomstige plakkerskampe en land grypers sal dit eis – wel maak asb eerste die Wes-Kaap skoon sodat die referendum nie met die gemors opgeskeep hoef te wees om die siek kultuur te verwyder nie – daar sal genoeg werk en onkostes wees om die terroriste se name te verwyder van strate dorpe lughawens ens asook die vieslike terroriste beelde en gesigte in die Wes-Kaap dankie – DA julle sal maar moet begin werk en ophou vrae vra en iets doen.

Annettest ·

Ek wil graag optimisties wees, maar dit is moeilik. Ons ken die ANC-regering se geskiedenis van beloftes en praatjies wat nooit realiseer nie. Inteendeel, hier gaan weer korrupsie uitpeul soos met alle vorige projekte van “opheffing”. Ek sien plakkershutte met ‘n paar bokke en mielieplante rondom. Bestaansboere! Ek hoop regtig ek word verkeerd bewys

Yvonne ·

Hier kom nou sommer weer groot skaalse korrupsie..ai dis sleg om so te voel maar dit is ongelukkig die feite soos met enigiets wat die regering aanpak….besoedel nog voor dit begin

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.