Plaasaanvalle: Agri SA vra aksie

Agri SA het Woensdag gesê die polisie kan nie langer voete sleep met landelike veiligheid nie.

“Die afgelope week se moord op Ronel van Eyck van Hartebeesfontein in die Noordwes en Owen Charles van Jansenville in die Oos-Kaap het weer die kollig op die kwesbaarheid van landelike gemeenskappe geplaas,” het Johannes Möller, president van Agri SA, gesê.

“Hierdie moorde wys op die noodsaak vir die dringende implementering van die landelike beveiligingstrategie, asook die vrystelling van die reservistebeleid vir implementering. Die polisie kan nie langer voete sleep met die inwerkingstelling van die strategie en die aanwending van reserviste vir landelike beveiliging nie.”

Agri SA het ʼn beroep word op die polisie gedoen om alles in die stryd te werp om die skuldiges in die Van Eyck moord aan te keer en voor die hof te bring. “Terselfdertyd moet die polisie in die Oos-Kaap geloof word vir hulle optrede om van die verdagtes in die Charles-moord aan te keer,” het Möller bygevoeg.

Volgens Möller het Agri SA reeds by herhaling ʼn dringende beroep op Nathi Mthethwa, die minister van polisie, gedoen om toe te sien dat die landelike beveiligingstrategie met die gepaardgaande strukture gou in landelike gebied inwerking gestel word.

“Die strategie moet veral gesien word teen die agtergrond van die regering se prioritisering van landelike misdaad en die noodsaak om die gebiede veiliger te maak ook met die oog op volgehoue landbouproduksie en landelike ontwikkeling. Die spoedige vrystelling en inwerkingstelling van die reservistebeleid ter ondersteuning van die landelike beveiligingstrategie is ʼn onontbeerlike aanvulling in hierdie verband. Ons verwag dat die minister spoedig sal reageer op ons tersaaklike versoeke en indien nie sal Agri SA hierdie aangeleentheid met die portefeuljekomitee van polisie bespreek,” het Möller gesê.

Maroela Media het Woensdag berig dat die burgerregte-organisasie, AfriForum, ’n formele vergadering met minister Mthethwa aangevra het om plaasaanvalle te bespreek. Lees meer hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.