Agri SA, weermag gaan nouer saamwerk

(Argieffoto: Kopano Tlape/GCIS )

Die landbouorganisasie Agri SA en die weermag het onderneem om voortaan nouer saam te werk om die landelike ekonomie te ontwikkel en veiligheid op die platteland te verbeter.

“Die weermag moet ʼn rol speel om gemeenskappe in nood en boerderygemeenskappe by te staan. Die weermag moet brûe bou,” het genl. Solly Shoke, weermaghoof, gesê.

Shoke sê hy is bewus van die veiligheidsrisiko wat boerderygemeenskappe langs internasionale grense in die gesig staar en dat oorgrensmisdaad gepak moet word om die bedreiging daarvan te bekamp.

Pierre Vercueil, president van Agri SA, sê die organisasie wil saam met die weermag werk om die bydrae wat die landboubedryf tot voedselsekerheid lewer te verbeter en om armoede in landelike gebiede te help verlig.

“Die veiligheid van boerderygemeenskappe langs Suid-Afrikaanse grense is belangrik vir Agri SA. Om dié rede behoort Agri SA en die weermag saam te werk om landelike veiligheid te verbeter,” het Vercueil in ʼn gesamentlike verklaring van Agri SA en die weermag gesê.

Die organisasies stem saam dat landbou ʼn gepaste manier is om tot ekonomiese groei by te dra en juis daarom moet misdaad en ander probleme wat gemeenskappe langs grense en in landelike gebiede teister, doeltreffend opgelos word.

Die weermag sê hy verbeter tans die vermoë van sy Mzantsi-tuiswag wat sal bydra om georganiseerde en gekoördineerde dekking van Suid-Afrika se platteland te bied. Shoke sê dit gaan die weermag ook toelaat om selfs meer proaktief op te tree.

Lede van die tuiswag gaan basiese weermagopleiding ontvang, wat insluit opleiding oor informele byeenkomste, die hantering van rampe, asook steun – soos om ʼn watersuiweringsdiens te verskaf – aan gemeenskappe in nood.

Agri SA het die daarstelling van die tuiswag verwelkom en meen dit kan ʼn groot bydrae lewer om veiligheid te help verbeter en boonop die nasionale landelike veiligheidstrategie verder versterk.

Die weermag se Koba-Tlala-projek – wat beteken “om honger te verjaag” – is ook by die vergadering tussen die organisasies bespreek.

Nosiviwe Mapisa-Nqakula, minister van verdediging en militêre veterane, het reeds die konsep vir die projek goedgekeur ingevolge waarvan die weermag sy teenwoordigheid in plattelandse en semi-plattelandse gebiede sal gebruik om tot die ontwikkelingsagenda by te dra.

Die bedoeling met die projek is om ʼn proses te vestig waar kommersiële boere, kleinboere en opkomende boere landbou- en ander produkte, asook goedere en dienste, aan die weermag kan voorsien.

Agri SA het onderneem om saam met die weermag te werk om die Koba-Tlala-projek te vergroot en die tuiswag in te span om landelike veiligheid te verbeter.

Die organisasies sal later weer vergader om die inwerkingstelling van Projek Koba-Tlala te bespreek, asook om gesamentlike inisiatiewe te ontwikkel om misdaad in grensgebiede te stuit.

Die weermag gaan ook ander belanghebbendes in die landbouwaardeketting betrek om hulle rol in die inwerkingstelling van die planne te bespreek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

Samuel ·

Jy kan mos nie die SAW vertrou nie!! Die polisie kan dan nie eers help nie.

Genis ·

Seeing is believing… voeg daad by word, en laat mens resultate sien… talk is cheep money buys the Whiskey….

Remlut ·

Alles praat, praat woorde soos moet dit en moet dat. Dit is waar dit ook sal bly net om die mense te paai. Skrik wakker dit beteken NIKS NIE.

Jaco ·

Help hier en help daar en dan, wanneer onteiening sonder vergoeding begin, is die weermag lank reeds naby wit boere se plase ontplooi en kan die afvat van die plase maklik gebeur….

Frederik C ·

Lok Agri SA nie nou die verkeerde manne plase toe nie ??

Wakkerslaper ·

Liewe heng ouens! Hoe lank wil julle nog tyd mors om met ‘n terroriste staat en weermag te probeer onderhandel en saamwerk? Die staat stel BAIE DUIDELIK nie belang daarin om aanvalle op ons as Boere (landelik en stedelik) te stop nie… INTEENDEEL! Wanneer gaan julle wakker word?

Spook ·

Nou dink ek ver terug. O ja, ons het so ‘n stelsel gehad!!! Dit was die kommandos!!!!!!!!!

Chris ·

Dink maar aan destyds hoe ons tussen Namibië en Angola patroleer het en duisende van ons soldate verloor het, maar steeds aangehou het met veg. Ek bid waarlik dat die samewerkinge ten goede gaan realiseer.

Sarel ·

Agri SA en die Weermag. Jammer maar Agri SA beindruk my nie. Te Regeringsgesind

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.