Agri SA wil met Ramaphosa vergader ná Cele se getier

Bheki Cele, minister van polisie. (Foto: GCIS)

Die landbouorganisasie Agri SA wil met pres. Cyril Ramaphosa vergader nadat die minister van polisie, Bheki Cele, die afgelope week by ʼn gemeenskapsvergadering in KwaZulu-Natal teen boere uitgevaar het.

Agri SA sê Cele se opmerking – “wie dink jy is jy” – aan Roland Collyer, ʼn boer van Normandien, is “neerhalend en onvanpas”.

Die organisasie sê daar is geen regverdiging vir sulke woede-uitbarstings of minagtende opmerkings nie. Agri SA wat veronderstel was om ʼn opbouende gesprek tussen die landbougemeenskap en die minister van polisie te wees, het nou in ʼn openbare relletjie ontaard.

Agri SA sê dit is die regering se plig om sy burgers te beskerm en dat enigiemand die reg het om met die regering in gesprek te tree daaroor. Hy sê staatsamptenare moet ten alle tye die nodige respek en empatie betoon – en as hulle dit nie doen nie, is dit teenstrydig met die Grondwet.

Die organisasie sê ook dié soort uitbarsting ondermyn die regering se positiewe houding jeens boere en werkers.

Agri SA gaan die kwessie nou met Ramaphosa opneem sodat hy kan ingryp en help om oplossings te vind vir positiewe samewerking en konsensus. Die organisasie sê die veralgemening van ʼn enkele voorval kan nie as die norm voorgehou word nie en is inderwaarheid die uitsondering op die reël.

“Agri SA het nog altyd daarna gestreef om deel van die oplossing te wees en steun te gee waar probleme met landelike veiligheid ondervind word,” het Tommie Esterhuise, voorsitter van Agri SA se sentrum vir uitnemendheid: Landelike veiligheid, gesê.

“Dit is ongelukkig dat landelike veiligheid nou in ʼn politieke debat tydens ʼn imbizo ontaard het en nie die nodige aandag ontvang nie.”

Agri SA sê dit is die regering se plig om sy werk sonder vrees of vooroordeel te doen en die nodige geduld en takt te wys om saam met alle wetsgehoorsame burgers te werk om misdaad in die land te stuit. Dié pligte word in die Grondwet uitgestippel.

Die organisasie benadruk dat die Grondwet die hoeksteen van die land se demokrasie vorm.

“Agri SA bly verbind daartoe om saam met die minister te werk om ʼn kultuur van gemeenskaplike respek en samewerking te vestig. Dit is in nasionale belang dat ons kragte saamsnoer om misdaad van watter aard ook al te bestry – nou meer as ooit.”

Verskeie organisasies het reeds Cele se uitbarsting veroordeel. Die vergadering tussen die minister, verskeie hooggeplaaste polisielede en inwoners van die gebied, is Maandag in Newcastle gehou.

Landelike veiligheid in die gebied is opnuut op die spits gedryf ná die moord op Glen Rafferty (63) en sy vrou, Vida (60), verlede maand.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

31 Kommentare

jongste oudste gewildste
Pampoen

Daar sit ‘n man op die sypaadjie en hou sy hoed op die grond vas. Iemand kom verbygestap en die man vra hom om te help. Hy vertel sy papegaai het uitgekom en die ding is wild. Hy sal die hoed effe lig en dan moet die verbyganger die papegaai gryp. So gemaak gryp die ou maar daar is toe al die tyd bollie onder die hoed. Die idee was maar om iemand ‘n streep te trek. Lyk maar daar is gereeld bollie onder ‘n hoed.

Jaco

Al die tyd wat daar so vergadering gehou word en gekla word, kan veel beter benut word deur buurt- en plaaswagte te skep en bestaandes te versterk. Ons weet mos nou al dat vergaderings en ‘n gekla niks sal help nie.
Op ‘n dag, as dié geklaery aanhou, gaan die ANC finaal moeg wees daarvan en dan sê “tot hiertoe en nie verder nie”. En dan begin hulle alle wit mense te beskuldig dat ons “reaksionêr en teen transformasie” is en dan volg onteiening sonder vergoeding en allerhande ander onderdrukking.

Manie

Cele is vinnig besig om homself die mees ongewilde vyand nommer 1 te maak.

groenboer

Die regering kan nie eers die meeste van ANC-ondersteuners help nie. Hoe gaan hy ooit die boere kan help? Al die optogte en petisies en goed is ‘n mors van tyd en energie. Die boere moet vergeet van enige hulp vanaf die regering en hul eie veiligheistelsels begin skep. Ja, seker makliker gesê as gedoen, maar dit is die enigste opsie. Natuurlik, sou die boere hul eie gewapende sekuriteit daarstel, dan wemel die platteland dalk skielik van die polisie om dié skandelike rassisme stop te sit… In ieder geval. Plaasaanvalle is nou al ‘n goeie twee dekades of meer ‘n… Lees meer »

Chris

Dit is ‘n sprekende voorbeeld van die algemene houding van die huidige regering en Cele gee net uiting aan die gevoel. In die Bybel staan dit, “wee die land waar die slaaf koning geword het”. Ons sal die situasie maar moet uit en deursit. Ek weet net dat dit nie altyd so kan aangaan nie.