Agri Wes-Kaap: Landbou moet sy waterdeel kry om ramp te voorkom

Carl Opperman, uitvoerende hoof van Agri Wes-Kaap. Foto: @AgriWesKaap/Twitter.com

Die droogte in die Wes-Kaap neem kritieke afmetings aan, nie net vir die stad Kaapstad nie, maar die landbou is ook diep in die knyp. In hierdie eerste aflewering van artikels oor die droogte en sy uitwerking asook toekomsbeplanning het Maroela Media met Carl Opperman, uitvoerende hoof van Agri Wes-Kaap, gesels.

“Selfs al raak die damme weer vol en grondwater is weer soos dit moet wees, gaan dit nie die probleem oplos nie. Die waterbehoefte in die Wes-Kaap styg, en die landbou, met die kleinste gedeelte van die watertoediening, het sy deel nodig,” sê Carl Opperman, uitvoerende hoof van Agri Wes-Kaap.

“Agri Wes-Kaap het reeds in Oktober 2015 gewaarsku dat die Wes-Kaap op ʼn waterkrisis afstuur wat dringend bestuur moet word. ʼn Geruime tyd het intussen verloop waar daar doeltreffend op die waarskuwing ag geslaan en doeltreffende planne ingestel kon word.”

Opperman het gereageer op navrae van Maroela Media oor die uitwerking van die inperking van besproeiingswater om meer water vir die dorstige Kaapse metropool te bekom.

“Die provinsie se water moet beter bestuurstatus kry sodat die Wes-Kaap nie voortaan in soortgelyke situasies as tans beland nie. Ons is besig om ons ondergang te bestuur soos wat water tans bestuur word. Ons is nou in ʼn erger posisie as dieselfde tyd verlede jaar, en as ons nie binnekort goeie reën kry nie, gaan dit nóg erger raak. Die behoefte aan water in die provinsie is enorm, maar ons sien nie ʼn waterplan om almal te help nie: alle industrieë, die totale ekosisteem, alle munisipaliteite, landbou, almal. Die departement van water en sanitasie het nie ʼn werkbare plan wat ingestel kan word nie.

“In die Wes-Kaap is landbou se bruto-waardetoevoeging R18,6 miljard per jaar. Die Wes-Kaap produseer meer as 50% van Suid-Afrika se landbou-uitvoer, met die Europese Unie as een van die grootste bestemmings, en amper 75% van die buitelandse wynverkope van meer as R5 miljard. Landbou dra nasionaal ongeveer 2% tot die BBP by, en die Wes-Kaap se gedeelte van hierdie 2% is 22,6%, want ons produseer hoëwaarde-uitvoergewasse.

“Die Wes-Kaap se landbou-vooruitsigte kan drasties verbeter as ons nog harde reënbuie kry om ons damvlakke drasties te lig. Die afgelope winterreën het weer nie die watervoorraad gelewer soos wat dit moes wees nie.

“Die watertekort is enorm en die verbruiker moet dit weet, want dit raak die verbruiker ook. Agri Wes-Kaap is bekommerd oor die uitwerking wat die droogte op lang termyn op die provinsie se sterk uitvoerbedrywe gaan hê wat water kritiek nodig het vir produksie, soos ons graan-, wingerd- en vrugtebedrywe.

“Wat die graan betref: al die graanproduserende gebiede in die provinsie kort dringend nog reën en produsente hoop vir ʼn laat winter met reën tot nog laat in September.

“Geen na-oeswater is vir ons vrugteprodusente beskikbaar nie en dit gaan ʼn invloed op volgende jaar se oes hê. Die vroeë winter was vanjaar in baie gebiede baie warm. Daar was ook min sneeuval tot op hede, wat beteken produsente het minder koue eenhede gehad. Omdat baie produsente verlede jaar weens die droogte genoodsaak was om na-oeswater vir die voor-oesfase te gebruik, kan dit ʼn invloed op die vrugte hê.

“Ons krisis bly egter steeds weiding. Agri Wes-Kaap help steeds produsente in die twee rampgebiede (Weskus-distrik en Sentraal-Karoo) met droogtehulp uit, maar al hoe meer gebiede raak in die moeilikheid en het ook nou hulp nodig. Die Eden-distrik het veevoer ook nou kritiek nodig, sowel as produsente in die Knysna- en die Riversdal-omgewing waar brande weiding totaal vernietig het. Ruvoer is al maande lank nie meer in die Wes-Kaap beskikbaar nie. Tot dusver het Agri Wes-Kaap 5 500 ton veevoer aan produsente gelewer, teen ʼn koste van R4 miljoen (die voer en kontant was skenkings aan ons droogtehulpfonds waarvoor ons baie dankbaar is, maar dit is uitgeput). Dit is baie duur om voerskenkings uit die noorde na die Wes-Kaap te verskuif, so ons het finansiële bydraes kritiek nodig.

“Die bestuur van die provinsie se huidige waterprobleme vereis kundigheid en bevoegdheid, nie net ter wille van die landbousektor nie, maar ook vir elke inwoner van die provinsie wat aan drastiese waterbeperkings onderhewig is en nie besef wat die uitwerking gaan wees as die landbou se water gesny word nie. Dit kan ekonomiese gevolge vir die bedryf inhou, met gepaardgaande werkskeppingsprobleme, die inkorting van die waardeketting wat gaan sukkel om insette te kry en fiskale gevolge met verliese vir die staatskas en munisipaliteite.”

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: SA-nuus

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

6 Kommentare

snoefie ·

wat kan die boere self doen om n bietjie”na oues water te versamel? ons lewe immers in n DIY era.

Dink bietjie ·

Wes-Kaapse produsente se water is die laaste paar jaar elke jaar gesny…vanjaar het hulle slegs 50% van hulle oorspronklike waterregte gekry. Hoe dink jy oorleef ‘n mens so? Meerjarige plante kry skade as hulle nie genoegsaam water kry nie en dan is die oeste ook nie na wense nie…dit het ‘n sneeubal effek. Hoe DIY ‘n mens met reeds te min water? Ons kry reeds slegs elke derde week drinkwater terwyl daar nog dorpsmense is wat water mors. Miskien moet jy bietjie kyk of jy vir jou noodsaaklike water kan DIY en dan kyk jy hoe ver jy kom…dalk sommer vir jou groente en vrugte DIY terwyl jy besig is. Onthou net hierdie gaan nie net oor water nie, gaan die produsente onder is daar ‘n hele streek se mense wat sonder werk sit – jy kan nie op die buurplaas gaan werk nie – hy is ook onderdeur. Of stel jy voor die Wes-Kaap se plaaswerkerkorps moet vir hulle werk ook DIY???

baie gedink ·

iemand is baie anti diy. ons gebruik as jareblank badwater, wasmasjienwater ens in ons tuine. dit werk uitstekend. so @dink bietjie, maak nie saak hie anti diy jy is nie, maar, where there’s a will, there’s a way. alle reenwater word ook opgevang in n groot groen tenk.

Therese van Schalkwyk ·

Om hierdie yslike krisis te bestuur en ‘n jaarlikse ramp te voorkom, sal alle groot rolspelers dringend koppe moet bymekaar sit en met daadwerklike optrede, planne en oplossings vorendag kom.
Biljoenêr sakemanne, wynprodusente en landgoedeienaars, toerisme-operateurs en vele ander belanghebbendes kan tog nie hande gevou sit en van Patricia de Lille en Helen Zille verwag om die situasie reg te toor nie. Miljarde gaan bv. nodig wees vir die ontsouting van seewater.

Dirk Breytenbach ·

Dit is ook katastrofies vir besighede in die Weskaap. Die metro se burgemeester dreig met boetes en tronkstraf, dit los nie situasie op wat oor die afgelope dekade of meer opgebou was deur swak bestuur en kortsigtigheid nie. Waterkarre sal ook nie besighede of plase aan die gang kan hou nie. Ons langtermyn watersekerheid is ernstig geknou maar dit help nie om nou vinger te wys nie, dis te laat.
Aangesien almal saam in die penarie is moet daar nou hande gevat word om kort en langtermyn behoetes aan te spreek anders moet ons maar “vlug” na ander weivelde toe .

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.