AgriSA waarsku teen vervaardiging van hennep, cannabis

Suid-Afrikaners moet waak teen kommersiële vervaardiging van hennep en cannabis wat by voedselsekerheid kan inmeng, het AgriSA Donderdag gewaarsku.

Pres. Cyril Ramaphosa het in sy staatsrede verlede week gesê die regering sal vanjaar die kommersiële gebruik van hennep-produkte reguleer, om so ook die geleentheid vir die vervaardiging daarvan vir kleinskaalse boere te bied.

Ramaphosa beoog om die beleid rondom die gebruik van cannabis-produkte vir medisinale doeleindes te formuleer en sal eersdaags die reguleringstappe daarvan aankondig.

AgriSA het gesê die regering moet die hele landbou-waardeketting oorweeg by die formulering van die beleid vir die verbouing van cannabis en hennep, veral omdat die fokus op kleinskaalse boere is.

“Kleinskaalse boere het nie noodwendig toegang tot al die hulpbronne wat nodig is vir ʼn suksesvolle oes nie, soos onder meer kunsmisstowwe en water,” het AgriSA Donderdag gesê.

Dié landbouvereniging meen die nodige werkskepping moet ook geskied. Dit is onduidelik wat die potensiaal vir werkskepping in die primêre landbou vir die kommersiële verbouing van cannabis en hennep is. “Werkskepping kan die resultaat van sekondêre landbou wees, waar cannabis en hennep verwerk word en produkte vervaardig en verkoop word.”

AgriSA meen noukeurige beplanning en bestuur ten opsigte van infrastruktuurontwikkeling en marktoegang moet ook reeds bestaan om die lewensvatbaarheid van die kommersiële vervaardiging van dié produkte te verseker.

Gegewe die misdaadsyfer in landelike gebiede is dit ook van kardinale belang om die koste van die beveiliging van hennep- of cannabis-oeste in ag te neem. “Die regering moet maatreëls tref om te voorkom dat die vervaardiging van cannabis lei tot die onwettig gebruik daarvan.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Wielspore ·

As hierdie produk op groot skaal aangeplant word kan sy olie gebruik word as brandstof vir motors en selfs vir die aandryf van stoom turbines vir elektrisiteit opwekking. Heeltemal hernubare vorm van energie.

Hexadane ·

En dan sal almal rustiger en gelukkiger kan wees met al die uitlaat gasse… solank dit nie soos dagga ruik as dit verbrand word nie is dit n goeie plan.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.