Agrizzi hoor dan oor borgtog-appèl 

Angelo Agrizzi tydens ‘n vroeëre hofverskyning.

Uitspraak in Angelo Agrizzi se appèl teen die beslissing om hom borgtog te weier, is tot Vrydag voorbehou.

Die staat het Maandag in die hooggeregshof in Johannesburg aangevoer dat daar sterk gronde is om nie die besluit om Agrizzi borgtog te weier om te keer nie.

Volgens die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) se ondersoekdirektoraat het Agrizzi, voormalige bedryfshoof van die omstrede maatskappy Bosasa, gelieg oor die waarde van sy roerende bates en het hy ook nie sy bande met Italië verklaar nie.

Agrizzi is op 14 Oktober in die Palm Ridge-landdroshof borgtog geweier. Hy is die volgende dag na ’n staathospitaal geneem vir mediese behandeling. Agrizzi is kort daarna na ’n private hospitaal oorgeplaas waar hy onder polisiebewaking behandel word. Volgens sy regsverteenwoordiger het hy ’n hartaanval in die hospitaal gehad.

Agrizzi se mediese toestand en die vrees wat sy prokureur geopper het oor komorbiditeite vir Covid-19 en die moontlike versuim van korrektiewe dienste om behoorlike behandeling aan hom te bied, is volgens die ondersoekdirektoraat nie genoeg rede dat hy op borgtog vrygelaat moet word nie.

Die staat meen Agrizzi is ’n vlugrisiko en dat hy moontlik landuit kan vlug om vervolging te ontduik.

Agrizzi staan saam met die oud-ANC-LP Vincent Smith tereg op aanklagte van korrupsie en bedrog. Hy het Smith glo omgekoop om te help verseker Bosasa kry winsgewende staatstenders.

Die ondersoekdirektoraat het tydens Agrizzi se aanvanklike borgtogaansoek aangevoer hy het gelieg in ʼn beëdigde verklaring wat hy in Februarie verlede jaar afgelê het waarin hy aan die hof gesê het hy en sy vrou besit roerende bates van nagenoeg R2,6 miljoen en vaste bates – in die vorm van eiendom – van R14,6 miljoen.

Sindisiwe Twala, woordvoerder van die direktoraat, het gesê daar is intussen vasgestel die egpaar se roerende bates, wat meubels, juwele en kuns uitsluit, beloop sowat R35,6 miljoen.

Volgens Twala het Agrizzi ook nie sy bande met Italië bekend gemaak nie. Hy het nie sy Italiaanse paspoort aan die hof gegee nie en beweer dat hy dit verloor het. Die Italiaanse owerhede het bevestig dat Agrizzi op 5 Maart 2019 ʼn eiendom in Castel Del Piano in Italië vir €880 000 (sowat R17 miljoen) asook ʼn luukse voertuig gekoop het. ʼn Bankrekening in die naam van Agrizzi se vrou het ʼn saldo van €714 419,50 (sowat R13 miljoen). Die batebeslagleggingseenheid doen tans stappe om beslag te lê op die Italiaanse bates.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

2 Kommentare

jongste oudste gewildste
Hennie J

“Lam ter slagtig”