Agrizzi in hof oor beweerde omkopery van oud-LP Vincent Smith

Angelo Agrizzi (regs), voormalige hoof van Bosasa, en die oud-ANC-LP Vincent Smith, tydens hul hofverskyning. (Skermgreep: NVG)

Die voormalige hoof van die omstrede maatskappy Bosasa, Angelo Agrizzi, sal Woensdag vir die eerste keer saam met die voormalige ANC-LP Vincent Smith in die hof verskyn op aanklagte van bedrog en korrupsie. Agrizzi het Smith glo telkemale omkoopgeld betaal.

Agrizzi word van korrupsie aangekla nadat hy opdrag gegee het dat betaal word vir veiligheidsopgraderingswerk – in die vorm van ʼn elektriese heining om Smith se huis – wat in 2014 altesaam R200 000 beloop het.

In 2015 het hy volgens die klagstaat verseker dat R276 667 aan Smith betaal word.

In 2016 het ʼn bedrag van R345 076, deur Bosasa, glo ook in Smith se rekening beland. Dit is in drie paaiemente betaal.

Die betalings is volgens die staat gedoen as onbehoorlike aanmoediging vir Smith om aan te hou om sy posisie in die parlement – hy is ʼn voormalige voorsitter van die portefeuljekomitee oor korrektiewe dienste (DKD) – tot voordeel van Bosasa te gebruik.

Agrizzi het in opspraakwekkende getuienis voor die Zondo-kommissie van ondersoek na staatskaping nie net vir Smith by die beweerde bedrogspul betrek nie, maar ook sy mede-ANC-LP Cedric Frolick.

Smith staan tereg op een aanklag van korrupsie en een aanklag van bedrog. Die tweede klagte hou verband met sy plig as LP om die betalings wat hy van ʼn maatskappy, wat tussen 2004 en 2006 kontrakte van meer as ʼn R1 miljard by die DKD gekry het, bekend te maak.

Die kontrakte het nog tot verlede jaar geduur, ten spyte van ʼn aanbeveling van die spesiale ondersoekeenheid (SOE) tien jaar gelede dat dit opgeskort word.

Smith het hom op 1 Oktober aan die polisie in Alberton oorgegee.

Hy het dieselfde dag nog in die Palm Ridge-landdroshof verskyn en is op borgtog van R30 000 vrygelaat. Hy pleit onskuldig op die aanklagte teen hom.

Agrizzi sou saam met hom verskyn het, maar kon weens mediese redes nie die hofverrigtinge bywoon nie. Die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) het gesê hy sal wel die volgende verskyning bywoon.

Agrizzi het 18 jaar lank vir Bosasa gewerk en het verlede jaar aan die Zondo-kommissie gesê Frolick is R40 000 betaal om Smith te paai. Dié het glo aanvanklik twyfel gehad oor Bosasa en kon moontlik pogings om kontrakte met DKD aan te gaan, in die wiele ry.

Frolick het vroeër vandeesmaand voor die kommissie driftig ontken dat hy enige omkoopgeld aanvaar het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Aai ·

Die fluitjieblaser Agrizzi gaan sit en die res gaan loop .Dit is hoekom misdaad so hoog is niemand wil praat of hulle gaan na tronk.

Jacobus ·

So verskyn die fluitjie baser weer en weer in die hof. – die plunderaars -. ” no so much!”

Belinda ·

Nee wat laat die dinge net begin gebeur, Agrissi ek hoop jou regspan is reg en dat jy op die ou einde vir jou eerlikheid na al die dinge beloon gaan word. Ek was ook aanvanklik baie kwaad, maar ek besef jy werk daar en dan word goed van jou verwag en jy is tussen 2 vure en die nadeel raak jou nie direk nie tot op ‘n dag….. So is dit

My siening ·

Smith het ook baie te sê gehad oor apartheid
Voor jy ander beskuldig smith haal balk uit jou eie oog! V..sek ANC.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.