Agrizzi-saak na hoër hof

Angelo Agrizzi, voormalige hoof van Bosasa, tydens ‘n vroeëre hofverskyning. (Foto: Timothy Bernard/ANA)

Die bedrogsaak teen Angelo Agrizzi, voormalige bedryfshoof van Bosasa, is Woensdag tot 18 Mei uitgestel, wanneer ʼn datum vir sy verskyning in die hooggeregshof bepaal sal word.

Sindisiwe Seboka, woordvoerder van die ondersoekdirektoraat, sê Agrizzi – wat sedert Oktober 2020 nie in die hof verskyn het weens swak gesondheid nie – was aanvanklik van plan om ʼn aansoek ingevolge artikel 342A van die Strafproseswet in onredelike vertraging te bring. Die verdediging het nou dié aansoek laat vaar.

Intussen het die staat ook nou die dienste van ʼn onafhanklike pulmonoloog bekom, wat Agrizzi sal assesseer en ʼn verslag oor sy gesondheid indien.

Agrizzi word daarvan beskuldig dat hy Vincent Smith, ʼn voormalige parlementslid, omgekoop het om te help verseker Bosasa kry winsgewende staatstenders.

Agrizzi het aanvanklik saam met Smith tereggestaan op aanklagte van bedrog en korrupsie ná bewerings dat Smith en sy maatskappy Euro Blitz 48 omkoopgeld van R800 000 van Agrizzi ontvang het.

Maroela Media het vroeër berig Smith was destyds die voorsitter van die parlement se portefeuljekomitee oor korrektiewe dienste (DKD). Bosasa is in hierdie tyd ondersoek nadat die DKD tenders van sowat R1 miljard aan Bosasa toegeken het. Die kontrakte is na bewering op korrupte wyse aan die maatskappy gegee.

Die sake teen Smith en Agrizzi is egter in Julie van mekaar geskei weens Agrizzi se swak gesondheid.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Pampoen ·

En so kry die fluitjieblaser pak slae. En die skuldiges kom niks oor nie.

Swerwer ·

Verstaan nie waarom daar dan nog nie vir Zuma die dienste van ʼn onafhanklike pulmonoloog bekom is nie.

Pietertjie ·

En waar is al die ander beskuldigdes? Sal seker ook eers deur Afriforum of Solidariteit aangevoer moet word.

Blikkies ·

Wat word van die res van die beskuldigdes wat hy uitgewys het in sy getuienis? Hy is darem baie vinnig toegesluit as die fluitjieblaser met nog geen regtige vervolging van al die ander nie? wat gaan aan.

TO ·

En alweer geld daar 2 stelle reëls, een vir zuma, een vir ander mense. Zuma se gesondheid hoef nie verklaar te word, maar…… En nou wonder ek

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.