Agt beweerde bendelede van die Stout Kinders-bende (STK) is vroeg Dinsdagoggend in Welkom in die Vrystaat vasgetrek.
Sers. Mamello Mokhuoane, woordvoerder van die polisie, het gesê hulle is in hegtenis geneem vir die moord op Themba Nqabashe (23).
Agt verdagtes, tussen 15 en 28 jaar oud, is vroegoggend by hul huise en wegkruipplekke opgespoor deur ’n polisie-ingrypingspan.
“Daar is gevaarlike wapens in al agt bendelede se besit gevind. Een het ook ’n speelgoedvuurwapen by hom gehad. ’n Ander 28-jarige man wat saam met hulle was ten tyde van die inhegtenisneming het dwelms by hom gehad,” het Mokhuoane gesê.
Die inhegtenisneming volg ná agt STK-bendelede glo Sondag omstreeks 19:15 by ’n huis in Thabong ingestorm het op soek na ene Sabata.
“Hulle het na ’n plakkershut aan die agterkant van die erf beweeg en Themba Nqabashe en sy vriend Karabo Nteo aangetref. Albei is verskeie kere oor hul liggame [met messe] gesteek.”
Nooddienste is ontbied en Nqabashe is op die toneel dood verklaar. Nteo is na ʼn hospitaal gehaas vir mediese behandeling.
ʼn Saak van moord word ondersoek.
Die agt lede sowel as die 28-jarige wat met die dwelms betrap is, sal binnekort in die Welkom-landdroshof verskyn.
Hoekom vat die polisie aan die moord wapens sonder handskoene? Dit is besoedeling van bewyse.
Nee – dit is nie. As ek ‘n mes by jou kry dan help dit nie ek kry jou vingerafdrukke daarop nie. As ek ‘n mes op ‘n misdaadtoneel kry dan soek ek vingerafdrukke daarop om dit te verbind met ‘n onbekende persoon.
oor hulle liggame of in hulle liggame?
Nika, want dan kan die misdadigers op een of ander tegniese puntjie hul straf vryspring en verder gaan moor. Of dalk is die spesifieke polisiemanne net onbevoeg. Dat ‘n fotograaf 3 polisielede so kan vang, hahaha. Goeie oog om dit raak te sien!
LouE, jou verduideliking is reg.
Bly hulle is gevang.
LouE en Lana – En as daar bloed op die mes was, geld dieselfde reëls van dat hul dit sonder handskoene kon hanteer het? Ek vra vir interessantheid.