Agt beseer in Potch-ongeluk

Foto: ER24

Foto: ER24

Agt mense is beseer in ʼn trompop-botsing op die N12 buite Potchefstroom in Noordwes.

Pieter Rossouw, woordvoerder van ER24, het gesê die botsing het Dinsdag omstreeks 22:00 sowat 20 km buite Potchefstroom plaasgevind. Volgens Rossouw is een persoon kritiek beseer in die botsing. Dié beseerde se been is gedeeltelik geamputeer.

Rossouw het gesê vier kinders onder die ouderdom van 12 het ligte beserings opgedoen terwyl drie ander persone matige beserings opgedoen het. Paramedici van ER24 het die kritiek beseerde persoon en die kinders op die toneel behandel voordat hulle na die Potchefstroom-hospitaal geneem is vir verdere mediese sorg.

Die oorblywende pasiënte is deur ander nooddienste op die toneel behandel. Die presiese oorsaak van die ongeluk word ondersoek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Jan maak n Plan ·

Soos die mense gister middag en aand op die N12 tussen Stilfontein en Wolmaransstad gery het is die net ‘n wonder dat daar nie nog meer ongelukke op die pad was nie. Karre en vragmotors steek verby net waar hulle wil ongeag of daar aankomende verkeer of sper strepe is. Voertuie ry sonder ligte as die son al onder is – was self amper in een in gewees. Voertuie staan langs die pad op die teer oppervlakte sonder waarskuwings ligte of tekens. Deesdae neem n mens jou lewe in jou eie hande as jy op die N12 ry.

Peet Schabort ·

Trompop-botsing en ‘die presiese oorsaak van die botsing word ondersoek’? Dis mos voor die hand liggend dat een van die twee gery het waar hy nie moes en dit is aan die VERKEERDE kant van die pad. Tagtig jaar gelede het ‘n boekie verskyn “Die Padkode van Suid-Afrika” (Prys: EEN pennie) waar daar uitdruklik alreeds gewys is op die gevare verbonde aan die verbysteek (in die boekie staan ‘inhaal’) van voertuie op die pad en waar en hoe dit geoorloof is om dit te doen. Dit was saamgevat onder NEGE verskillende punte.
Sedertdien het die VEILIGE bestuur van ‘n voertuig geensins verander.
In die voorwoord staan o.a. ook “Eerbied vir die Kode en vir die gees wat sy grondtoon is, is dermate ‘n morele plig dat die beoefening daarvan ‘n gewoonte behoort te word en die oortreding daarvan ‘n verwyt.”
Het dit enige inslag gevind by die meerderheid van motoriste?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.