Agt buitelanders vas oor aanlyn ‘bedrogspul’

Een van die verdagtes wat in hegtenis geneem is. (Foto: SA Polisie)

Agt buitelanders is in Kaapstad aangekeer in ʼn reuseoperasie tussen verskeie internasionale veiligheidsagentskappe in ʼn poging om aanlyn bedrog te stuit.

Die verdagtes is Dinsdag in die vroeë oggendure aangekeer en sal aangekla word van verskeie oortredings, waaronder geldwassery en sameswering om bedrog te pleeg. Amptenare van die Amerikaanse FBI, die Amerikaanse geheime diens, die Valke se eenheid vir ernstige handelsmisdaad, misdaadintelligensie, die honde-eenheid, die spesiale taakmag, die taktiese operasionele bestuurseenheid (TOMS), die kriminele rekordsentrum en lede van die Kaapstadse metropolisie was deel van die operasie.

“Die verdagtes in die ondersoek het almal glo bande met ʼn transnasionale georganiseerde misdaadsindikaat met sy oorsprong in Nigerië,” sê kol. Katlego Mogale, woordvoerder van die Valke.

Die verdagtes het glo veral kwesbare weduwees of geskeide vroue geteiken wat geglo het hulle is in ʼn werklike romantiese verhouding, maar uiteindelik uit hul geld geswendel is.

“Die verdagtes het sosialemediawebwerwe of aanlyn afspraakwebwerwe gebruik om hul slagoffers te identifiseer en met hulle in verbinding te tree,” sê Mogale.

Ander maniere waarop die verdagtes glo geld uit hul slagoffers geswendel het, sluit in die herleiding van e-pos-rekeninge sodat bankbesonderhede verander kan word. Die verdagtes het vals name gebruik en afspraakwebwerwe deursoek.

Nadat ʼn verhouding met ʼn slagoffer aangeknoop is, het die verdagtes glo hartseer verhale vertel oor waarom hulle geld van die slagoffer nodig het. Dit het ingesluit geld om belasting te betaal om ʼn erflating te bekom, ʼn oorsese reis, of selfs om uitstaande skuld te delg.

Sommige van die items waarop die polisie beslag gelê het. (Foto: SA Polisie)

Nagenoeg ‘n honderd slagoffers is sedert 2011 op die manier uit naastenby R100 miljoen bedrieg.

Die verdagtes het glo selfs mense na aan hulle geteiken en bure, vriende en familielede het deurgeloop.

“Die bedrieërs het hul slagoffers geïntimideer en uitgeskel, hul lewens geruïneer en verdwyn. Ons is vol vertroue dat die ondersoek ʼn beduidende uitwerking in die streek en selfs wyer as dit sal hê,” sê Mogale oor pogings om dié soort misdryf, bekend as “romance scams”, hok te slaan.

Die verdagtes verskyn na verwagting Woensdag in die Kaapstadse landdroshof.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

14 Kommentare

Suzette ·

Nee ek ook nie. Kan nie glo dat mense hulself nou nog deur dit laat vang nie.

Di ·

Jip ALWEER uitlanders! Solank die ANC kaders nie plan maak met die miljoene uitlanders in die land nie gaan CRIME nooit stop nie. Rooikappie nooi mos sy “brothers” om hier te kom plak. Hyself moet terug gaan waar hy vandaan kom

Nie Verbaas ·

En as dit nie was vir die Amerikaanse geheime diens en FBI wat doeltreffend funksioneer nie, het ons lokale “spesialiste” nog vas aan die slaap gesit en wiegie liedjies vir mekaar gesing.

Renier ·

Ek dink die FBI lag lekker as hulle saam ons kaders moet werk,

Dries ·

Diline , Moet die ANC kaders n plan maak ???? Wat n wensdenkery is dit. Hulle is groter kriminele

Santie ·

Hier is duisende pedofiele op facebook in SA. Hul stuur vieslike goed rond. Hul word geblok en geraporteer, maar hul kom niks oor nie. Amerika moet internet skurke hier kom vang. Wat n skande.

Kokerboom ·

SA se “oop deur” beleid veral teenoor Nigeriese boewe gaan ons nog duur te staan kom!!Alle “our people” is BESLIS NIE engeltjies nie!

melaney ·

Ek het ook ‘n facebook “friend request” ontvang van ‘n pragtige jong man van (Amerika). Gedink dit was ‘n nigerieër! Toe was dit uiteindelik my man se eks. Lol! Na 42 jaar behoort ek al daaraan gewoond te wees. Eish!

Swerwer ·

So woed dit al vir jare voort en steeds bly die bedrieërs altyd een voor.

Perdeby ·

Dating sites is bitter gevaarlik, vrouens val vir alles, maar dat hulle, hulle enigste spaargeld sommer net so kan uitgee gaan my verstand te bowe.

Sarel ·

Die Land wat ‘n Paradys is vir Misdadigers…maar ek lees
Die lys deur van wie….wat…almal betrokke was..
Wow….behalwd vir fue FBI is die res almal SA
Eenhede. Nou hoekom vier misdaad do hoogty in SA?

Jr ·

Wat ek nie verstaan is hoe vrouens en mense val vir hierdie snert. My liewe vader as daar so miljoene gevat was, dan is daar maar baie vrouens en mense sonder COMMON SENSE. Ek het party keer nie eers geld om my kinders te gee, nevermind iemand wat ek nooit ontmoet het

Mathys ·

100 Slagoffers, R100 miljoen, so daar was 100 Miljoener weduwees en geskeide vrouens in Suid-Afrika, was hulle miljoeners omdat hulle geskei was of het hulle geskei omdat hulle miljoeners was? Ek skat as jy die Amerikaanse regering se internasionale reikwydte wegvat, om hierdie soort gedrag te bevorder, dan sal hulle, hulle kapasiteit stuur om die skurke aan te keer

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.