Agt by begrafnis in hegtenis geneem

(Argieffoto)

Agt persone, tussen 22 en 35 jaar oud, het vandag in die Richmond-landdroshof in KwaZulu-Natal verskyn ná hulle by ʼn begraafplaas in hegtenis geneem is.

Kol. Thembeka Mbele, woordvoerder van die polisie, het gesê die persone is Saterdag deur beamptes van Richmond-polisie en die openbareorde-eenheid in hegtenis geneem op aanklag van die onwettige besit van ʼn vuurwapen.

“ʼn Vermeende misdadiger, Nkanyiso Mkhize, is Saterdag begrawe. Polisiebeamptes is in kennis gestel van lukrake skote wat by die begraafplaas afgevuur word en dat motors onverskillig bestuur word.”

Beamptes is na die toneel ontbied en met hul aankoms, het van die mense reeds die begraafplaas begin verlaat. Hulle het alle motors voorgekeer wat die begraafplaas verlaat. “Beamptes het in een voertuig, waarin agt persone gery het, op ʼn vuurwapen afgekom waarvan die reeksnommer verwyder is.”

Mkhize is vroeër dood aangetref saam met sy vriend, Mlamuli Phungula. Hulle liggame is in die bosse in die Alexandraweg-polisiëringsdistrik gevind. Hulle is na bewering op 26 September 2020 uit Richmond ontvoer. Mkhize is beskuldig van ʼn moord wat op 4 Augustus 2020 gepleeg is waartydens Ntuthuko Ndlovo in Richmond doodgeskiet is.

Thulani Gonya, waarnemende provinsiale polisiekommissaris, het gesê die vuurwapen sal vir ballistiese toetse gestuur word om te bepaal of dit in enige misdaad gebruik is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.