Agt dae en steeds geen teken van Charlie, ouers vermoed die ergste

Charlie Duvenhage. Foto: Verskaf

Charlie Duvenhage. Foto: Verskaf

Dit is vandag die agste dag sedert Charles Nicolaas “Charlie” Duvenhage (25) spoorloos uit Pretoria verdwyn het en sy ouers in Witbank, Mpumalanga, vermoed die ergste.

“Ons is ʼn baie hegte gesin en Charlie is baie familievas. Dit is uiters ongewoon van hom om vir agt dae nie met my of enige van sy boeties of sussies kontak te maak nie,” het ʼn emosionele Amanda Duvenhage, Charlie se ma, Vrydag aan Maroela Media gesê.

“Ons weet nie meer wat om te doen nie. Ons is rasend van bekommernis en die ergste gedagtes gaan deur ons koppe. Ek dink hy is dalk dood. My gedagtes hol weg met my.”

Maroela Media het Woensdag berig Charlie woon saam met sy ouers op Witbank. Hy het ’n tweelingbroer en vier ander broers en susters. Hy het nog met geeneen in verbinding getree nie.

Hy het verlede Woensdag saam met sy ouers van Witbank na Pretoria gery om sy suster se kinders terug te neem nadat die kinders tydens die skoolvakansie by hulle gekuier het. Die suster woon op ʼn kleinhoewe in die Paardefontein-omgewing in Kameeldrift, noordoos van Pretoria. Amanda se motor het onklaar geraak en hulle het Woensdagaand by Charlie se suster oornag.

Daar word vermoed dat Charlie hom Donderdagmiddag vir iemand vererg het en vermoedelik 17:30 van sy suster se kleinhoewe na Witbank wou ryloop. Hy het geen geld, ʼn beursie, identiteitsdokument, selfoon of ander besittings by hom gehad toe hy die laaste keer gesien is nie.

ʼn Vermistepersone-saak is by die Kameeldrift-polisie aanhangig gemaak nadat hy nooit by die huis opgedaag het nie. ʼn Verdagte blou bakkie is die dag van sy verdwyning in die omgewing opgemerk.

“Ek probeer nou met die polisie en Kameeldrift-buurtwag se mense reël dat daar ʼn soekgeselskap in die omgewing uitgestuur word. Ek is desperaat, ek weet nie wat anders om te doen nie. Dit voel of die polisie net voete sleep,” het sy ma gesê. As Charlie moontlik weggeloop het, moet hy iemand “asseblief net bel” sodat die gesin kan weet dat hy veilig is, het sy versoek.

Dessie Rechner, stigter en direkteur van Pink Ladies, ʼn organisasie wat hom daarop toespits om vermiste mense op te spoor, help met die soektog.

Rechner het ʼn beroep op mense gedoen om pamflette met inligting oor Charlie Duvenhage op sosiale media te versprei, in die hoop dat iemand hom sal herken. “Hoewel hy in Gauteng of Mpumalanga kan wees, moet mense in gedagte hou dat hy moontlik ʼn ryloopgeleentheid gekry het en dus enige plek in die land kan wees,” het sy gesê.

Hy is skraal, weeg 55 kg en is sowat 1,6 m lank. Hy het bruin hare en groen oë. Hy het ʼn tatoeëermerk van ʼn poema op sy linkerskouer. Hy het ʼn driekwart-denimbroek, ’n blou Billabong-T-hemp en plakkies aangehad toe hy die laaste keer gesien is.

Maroela Media het navraag by die polisie gedoen en wag vir terugvoer oor die vordering van die saak.

Mense met inligting oor waar hy hom moontlik mag bevind, word versoek om Pink Ladies by 072 214 7439 of 083 378 4882 te bel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

johanette ·

Ek hoop regtig julle kry hom. Dit is so gevaarlik vandag om net die pad te vat .

MM ·

Ek kry die familie bitter jammer, maar as jy jou wip vir iets moenie die pad vat nie. Hy behoort teen die tyd al te weet dit is glad nie veilig nie.

christine ·

Bietjie groot al vir wegloop. Klink nie na sy geaardheid nie. Soek mense en bid dat ons almal hom kry, Kaap bietjie ver maar ons hou oe oop. Mamma glo net met al jou krag jy het God nodig en Hy sal jou hand nooit nooit los nie.

SNEL ·

Baie sterkte aan die familie, hoop regtig hy word lewendig gevind.

Peet Schabort ·

Ja-nee Maroela ek reken die man op die maan gaan julle eerder antwoord as die polisie want hul het nog nie begin soek.
Ek haal my hoed af vir die Pink Ladies wat die polisie se werk (weer) doen.

Beatrix Stevens ·

Amanda my hart gaan uit na jul as gesin… kan net dink wat als deur jul gedagte gaan”” I Believe in Angels”’ en ek Bid uit my hart dat daar n wonderwerk sal plaasvind”’ Bid, Glo En Vertrou die beste”’ ek Glo dat hoe meer Gebede… hoe meer Wonderwerke…. Mag Charlie veilig terug keer…. STRONGS”’

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.