Agt Esidimeni-pasiënte steeds vermis

(Argieffoto: Departement van gesondheid: Mpumalanga)

Altesaam agt pasiënte wat in 2016 tydens die sogenaamde Life Esidimeni-tragedie na ander versorgingseenhede oorgeplaas is, is steeds spoorloos.

Die tragedie het die lewe van minstens 144 mense geëis nadat die Gautengse departement van gesondheid sowat 1 700 pasiënte van Life Esidimeni-fasiliteite na nieregeringsorganisasies (NRO) sonder lisensies en die nodige geriewe verskuif het.

Dié pasiënte het sowat drie maande in eenhede deurgebring wat nie opgeleide personeel of geldbronne gehad het om na hulle om te sien nie.

Jack Bloom, ʼn DA-lid van die Gautengse wetgewer, het gesê sedert Augustus verlede jaar is slegs ʼn enkele pasiënt by die Waverley-sorgsentrum opgespoor. Die inligting is verskaf in antwoord op ʼn vraag van Bloom aan die Gautengse LUR vir gesondheid, Bandile Masuku.

Masuku het gesê inligting van die departement van binnelandse sake en die Suid-Afrikaanse agentskap vir maatskaplike sekerheid (Sassa) is gebruik om na die pasiënte te soek, terwyl tuisbesoeke ook gedoen is.

Daar is ʼn groot gebrek aan inligting oor die pasiënte en inligting kon net oor vier van die agt vermiste pasiënte ingewin word. Die geboortedatums van sommige pasiënte is heeltemal onbekend en die kontakbesonderhede vir familielede is verkeerd.

“Ek is bevrees ons sal dalk nooit weet wat die lot van die agt pasiënte is nie. Dit is nou vier jaar sedert hulle van Life Esidimeni na die onwettige NRO’s oorgeplaas is, waar sommige van hulle se sterfte moontlik toegesmeer is,” het Bloom gesê.

Hy het gesê hoewel die bevestigde sterftesyfer 144 is, kan die ware dodetal dalk nooit bekend word nie omdat die lot van die vermiste pasiënte tot vandag ʼn raaisel is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Yolandie ·

Baie hartseer dat niemand tronkstraf gaan uitdien vir die dood vd mense nie. Jammer en ‘n paar trane is ongelukkig nie genoeg nie. Weer net ‘n geval van onbevoegdtheid om die werk te doen EN besluite maak sonder behoorlik ondersoek en impak. Maar ja nou is dit te laat.

Dries ·

En wat het van die LUR verantwoordelik vir hierdie dodelike ramp, Qedani Mahlangu, geword?

Louis ·

Ons moet probeer om toegesmeerde sake wat mediesegevalle is nie meer toe te laat nie. Veral nie terwyl daar ‘n NMS op die horison is nie.

Nell ·

Hierdie was ‘n verskriklike slagting en sal vir altyd ‘n gruwelike klad op die ANC se naam bly – 144 sterftes en 8 vermiste pasiënte (so goed soos dood)! Marikana het buitelandse nuus gehaal, maar Esidimeni is toegesmeer en onder die mat ingevee. Skande.

Willem ·

…en daardie ANC-kader wat verantwoordelik was vir hierdie skandelike gemors is nog steeds nie agter tralies nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.