Agt in hof ná polisie rooftog fnuik

Die agt verdagtes vasgetrek (Foto: Verskaf)

Agt verdagtes het Woensdag in die Thembalethu-landdroshof in George verskyn nadat hulle vasgetrek is in ʼn gepoogde transitorooftog naby George.

David Ndamase (58), Luthando Bartman (35), Nicolas Tyali (65), Sakhekile Manga (27), Sicelo Dyani (35), Sivuyile Bathembu (37), Siyabulela Mabuya (44) en Vuyo Mjwango (43) is tydens ʼn intelligensie-gedrewe operasie deur die Valke en lede van die plaaslike polisie in hegtenis geneem.

Ongelisensieerde vuurwapens in beslag geneem (Foto: Verskaf)

Volgens Katlego Mogale, woordvoerder van die polisie, het die Valke en polisie die verdagtes agternagesit toe hulle op pad was om ʼn transitorooftog uit te voer. Die verdagtes was na bewering in ʼn gesteelde wit Isuzu-bakkie op pad. Die polisie het hulle in Qhaw-straat in Thembalethu ingewag en die verdagtes in hegtenis geneem. Die polisie het beslag gelê op ongelisensieerde vuurwapens en ammunisie.

Die bakkie is glo in Khayelitsha as gesteel aangemeld.

Die groep verdagtes staan tereg op aanklagte van poging tot gewapende roof en die besit van ʼn gesteelde voertuig, asook ongelisensieerde vuurwapens en ammunisie.

Die hof het aansoeke om borgtog uitgestel tot Woensdag. Die agt verdagtes bly intussen in aanhouding.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

4 Kommentare

jongste oudste gewildste
Werner

Snaaks dat hulle nie hulle wapens ingehandig het nie dog al die skelms sou dit nou al gedoen het

Muffin

Baie goed gedoen SAP. Iemand kort n beloning. As die roof sou plaasvind kon daar moord ook betrokke gewees het. Gelukkig nie.

Stiks

Ek let op daar is buitelanders onder hulle

bekommerd

borgtog word weer toegestaan en ‘n week later roof hulle weer, hoe pateties is die regstelse tog nie