Agt in hof oor lyke by uitgebrande voertuig

Foto: SAPD

Die agt verdagtes wat verbind word met die dood van drie mans by ʼn uitgebrande voertuig buite Groblersdal in Limpopo, het Maandag in die Mdutjana-landdroshof verskyn. Hulle word aangekla van moord en ontvoering.

Moatshe Ngoepe, woordvoerder van die polisie, het gesê die saak is tot 17 April uitgestel wanneer hulle formeel aansoek om borgtog sal doen.

Llu Time Lebotse (29), Bethuel Lentsoane (31), Thabo Maile (33), Jefrey Mashifane (38), Godfrey Phasha (41), Piet Mashabela (51), Solly Ramoshaba (55) en Sarah Selahle (72) is Sondag vroegoggend in Mpheleng en Naganeng in die Dennilton-omgewing in hegtenis geneem.

Maroela Media het vroeër berig die verdagtes word verbind met die ontvoering van en moord op drie mans vroeër die maand. Die drie mans se liggame is Sondag 15 Maart naby ʼn uitgebrande voertuig in Naganeng gevind nadat die polisie en nooddienste deur ʼn verbyganger na die toneel ontbied is. Die liggame was onherkenbaar verkool.

Die oorledenes is vermoedelik erg aangerand voor hulle aan die brand gesteek is aangesien talle klippe op die toneel gevind is. Die oorledenes is geïdentifiseer as Owen Ncube (31), Salos Sithole (23) en Lovemore Basera (20).

Die polisie  ondersoek drie sake van moord en die motief vir die wrede moorde word ook steeds ondersoek. Volgens Ngoepe gaan die polisie se ondersoek voort en word nog inhegtenisnemings binnekort verwag.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.