Agt leeus, tiere in Limpopo vergiftig

WAARSKUWING: Die foto’s onderaan die berig is uiters grafies van aard en kan kinders en sensitiewe lesers ontstel.

Argieffoto

Argieffoto

Minstens agt leeus en tiere is in die afgelope week in Limpopo vergiftig, vermoedelik sodat hul liggaamsdele vir moetie gebruik kan word.

Kol. Ronel Otto, woordvoerder van die polisie, het gesê altesaam 13 leeus is die afgelope maand op plase in die Groblersdal-, Roedtan en Mookgophong-omgewings vergiftig. Talle van hierdie diere se koppe en pote is verwyder.

Sonja Creighton, ʼn boer van Groblersdal, het aan Maroela Media gesê vyf leeus op haar plaas is Sondagaand gif ingegee en twee van hulle is dood. Creighton het altesaam 14 leeus op haar plaas.

“Ons het ʼn verskeidenheid diere op die plaas, onder andere die leeus, maar ons boer nie met die leeus om hulle te verkoop nie. Hulle is amper soos ons kinders,” het sy gesê. “Ons het juis onlangs meer wagte aangestel om die plaas in die aande te patrolleer en die betrokke aand het hulle gehoor hoe drade by die leeukampe geknip word. Toe hulle daar aankom, het hulle die vleis met die Temik in wat vir die leeus gegee is, gesien. Twee leeuwyfies en drie mannetjies het van die gif ingekry.”

Volgens Creighton is ʼn 15-jarige leeuwyfie en ʼn negejarige leeumannetjie dood, terwyl die ander drie leeus gered kon word. ʼn Veearts het onmiddellik na die plaas gegaan om die leeus met die teenmiddel in te spuit en hulle te behandel. Sy het gesê die leeus is steeds besig om te herstel, maar dit gaan sover goed met hulle.

“Die boosdoeners was so 00:15 hier by ons en omstreeks 04:00 is twee wit leeus [by ʼn nabygeleë lodge] vergiftig. Dit is verskriklik hoe die plase in hierdie omgewing geteiken word,” het Creighton gesê. Sy het gesê hoewel geen van haar leeus se liggaamsdele verwyder is nie, was ʼn draad om die poot van een van die leeus gebind, vermoedelik om die karkas uit die kamp te sleep. Die boosdoeners het egter op die vlug geslaan voordat hulle die karkas kon verwyder.

Intussen het SA Rural Security op hul Facebook-blad berig twee leeus, ʼn tierwyfie en haar welpie is Woensdagaand in die omgewing naby Mookgophong dood nadat hulle vergiftig is. Een van dié leeus se kop is verwyder.

Volgens Otto is niemand nog in verband met enige van die voorvalle in hegtenis geneem nie. “Die polisie doen ʼn beroep op eienaars van leeus om die veiligheid op hul plase ter wille van hierdie diere op te skerp,” het sy gesê.

*Die name van die plase waar die leeus vergiftig is, word weggelaat ter wille van die diere se veiligheid.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

m ·

Ai dis so vreeslik hartseer. hierdie mense roei alles uit. Dis sulke pragtige diere.

Theresa B ·

Hierdie spul vernietig en verwoes ons hele land, ons mense en ook ons diere. Waar gaan alles ophou……!!!!!????

Jan maak n plan ·

Hierdie skurke moet gevang word en dan in n leeukamp gelos word sodat die leeus so bietjie met hulle kan gesels.

Foxi ·

Hoe verstommend en sprakeloos kan n mens word! Hoe lewer n mens kommentaar hierop?
Wat gaan in die mens se gedagtenis om……..hemel mense…….waar gaan dit eindig.
Gaan alles nie net om geld nie….om hulself te verryk, hetsy mens of dier?
Ek treur…ek huil…..ek is woedend…….ek het nie woorde nie!!!!

Theresa ·

As mens nog moetie maak?? Is dit nie iets wat nie meer gedoen behoort te word nie? Almal is dan so grênd? Of is dit deel van dié wat voor ‘n parlementsitting so spring met bossies gras en baie goed as hooftooisel se dinge? m a w ongesofistikeerd? Is dit wettig?? Baie mense ly ook hieronder – dink daar moet ‘n wet daarteen ingeskryf word iewers. Dis ‘n aaklige gebruik.

Mel ·

Nee my hel dis verskriklik!!!!! My hart breek in stukke om so iets te Lees, hul moet di wat verantwoordelik is soos Jan sê in ‘n leeu hok gooi

Kowa ·

Daar is ook ‘n klomp krokodille vergiftig en van hulle se koppe afgesny.

Landi Slatter ·

Dagsê Mias

Dankie vir jou navraag. “Tiers” en “tiere” word beide in Afrikaans erken, die meervoud is ‘n wisselvorm.

Groetnis
Landi nms Maroela Media

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.