Agt mans vas oor transitorooftog in Rustenburg

Argieffoto

Agt mans is in Kroondal buite Rustenburg in Noordwes in hegtenis geneem wat glo besig was om ʼn transitorooftog te beplan.

Kol. Brenda Muridili, woordvoerder van die polisie, het gesê ʼn multidissiplinêre taakspan het die mans Woensdag in hegtenis geneem. “Hulle het in vier voertuie gevlug toe hulle besef beamptes het hulle opgespoor. Die span het hulle agternagesit en flink die agt verdagtes aangekeer. Hulle is almal tussen 33 en 42 jaar oud.”

Sy het gesê beamptes het ook beslag gelê op vier voertuie, twee sedanmotors, ʼn sportnutsvoertuig en ʼn minibus, asook ʼn aanvalsgeweer met ammunisie. “Die taakspan is op die spoor van die verdagtes wat inhegtenisneming vrygespring het.”

Die mans staan tereg op aanklag van sameswering om ʼn gewapende roof te beplan, die onwettige besit van ʼn vuurwapen en die besit van vermoedelik gesteelde voertuie. Die saak is na die direktoraat vir prioriteitsmisdaadondersoeke (die Valke) oorgeplaas.

Nege mans is verlede maand in Mahikeng in hegtenis geneem toe hulle glo ook ʼn transitorooftog beplan het.

In ʼn afsonderlike voorval is ʼn polisiebeampte, wat met transitorooftogte verbind word, in Brits in hegtenis geneem ná die polisie ʼn wenk ontvang het dat ʼn rooftog op die Rosslyn-pad naby Brits beplan word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.