Agt nuwe gevalle van voëlgriep in SA

hoenders

Foto: Klimkin/Pixabay.com

Suid-Afrika het agt nuwe gevalle van die H5N8-voëlgriep by die Wêreldorganisasie vir Dieregesondheid (OIE) aangemeld, het die departement van landbou, bosbou en visserye gesê.

“Hierdie nuwe uitbrekings bring die totaal sedert Junie 2017 op 24 te staan,” het Bomikazi Molapo, woordvoerder vir die departement, Vrydag in ʼn verklaring gesê. “Tien uitbrekings in hoenders, drie in volstruise, vyf in wilde voëls, drie in voëls wat as ʼn stokperdjie aangehou is en drie gevalle in pluimvee wat in iemand se erf aangehou is.”

Molapo het gesê al die betrokke persele is onder kwarantyn geplaas en siektebeheermaatreëls word toegepas. “Die voortgesette samewerking van die publiek en die pluimveebedryf, waar siek en dooie voëls dadelik by die regering se veeartsenydienste aangemeld word, is noodsaaklik vir die doeltreffendheid van die siektebeheermaatreëls. Die departement bedank dus die publiek en die pluimveebedryf vir hul ondersteuning in hierdie verband.”

Volgens Molapo het minister Senzeni Zokwana Maandag met die bedryf vergader en kwessies is aangeroer oor vergoeding wat betref die beginsels en riglyne om die betrokke plase te vergoed. Hy het gesê konsepriglyne is saamgestel en word onderwerp aan ministeriële goedkeuring. Die goedgekeurde riglyne sal op 1 September aan die bedryf bekend gemaak word.

“Die bedryf het ook toestemming versoek dat vrugbare eiers ingevoer kan word om die gaping in die aanvraag aan te spreek wat geskep word as gevolg van voëls wat van kant gemaak word. Slegs een maatskappy het op 24 Augustus 2017 ʼn aansoek ingedien om eiers in te voer; die departement is nog besig met die voorgeskrewe risiko-analise om te behoorlike vlak van risiko te bepaal,” het Molapo bygevoeg.

“Ons moet ʼn behoorlike risiko-analise doen om te voorkom dat die land nie aan ander siekterisiko’s blootgestel word nie.”

Lees alle vorige berigte oor voëlgriep op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

John ·

?.. en die geldjies rol in want ons koop en eet die siek hoenders want duidelik is beheer oor die siekte nie die owerhede se erns nie; SA is mos ‘the darling of the universe’. Ons vryf net met die hand oor Mandela se voorkop en ons veelkleurige tower-mandala kom in aksie. Water is min en ons ploeter in ‘n ekonomiese misoes rond, ons aanbid onsself en vreemde gode, ons raadgewerende guru’s lag al die pad na uitlandse banke toe en armes is net die kanonvoer vir politieke gewin. Waarom sal ons nou skrik vir ‘n ligte pessiekte… Hoe lyk dit met hoenderpastei vanaand, vroulief?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.