Agt sterf toe brand by gastehuis uitbreek

Blinkwater Lodge naby die Kgalagadi-oorgrenspark in die Kalahari (Foto: Blinkwater Desertplace Manor)

Agt lede van drie gesinne is Sondagoggend oorlede toe ʼn brand by ʼn gastehuis in die Kalahari uitgebreek het.

Ds. Jan Grobbelaar van die NG Kerk in Prince Alfred Hamlet naby Ceres het aan Maroela Media gesê daar is nog nie in hierdie stadium baie inligting bekend oor presies wat gebeur het nie. Die oorsaak van die brand is ook nog nie bekend nie.

Twee van die gesinne is in Grobbelaar se gemeente en een gesin is van die Op-die-Berg-gemeente in die Koue Bokkeveld.

Grobbelaar het die nuus vanoggend met sy gemeente gedeel. “My hart is vanoggend stukkend. Daar is tye in jou lewe wanneer dinge met ons gebeur en dat dit net nie sin maak of jy dit verstaan nie. Ons troos is dat God nog steeds by ons is,” het hy gesê.

Twee van die ma’s en ʼn baba is ongedeerd. Twee van die pa’s is in ʼn kritieke toestand. Grobbelaar het gesê die een man is na die Christiaan Barnard-hospitaal in Kaapstad oorgeplaas en die ander na die Melomed-hospitaal in Bellville.

ʼn Man, ʼn vrou, en ses kinders het in die brand omgekom.

Een gesin het ʼn seun en dogter aan die dood afgestaan. Die pa is in ʼn kritieke toestand en die ma en die gesin se baba is ongedeerd.

Uit die tweede gesin is die man, wat in ʼn kritieke toestand is, se vrou en twee seuns oorlede.

Uit die derde gesin het ʼn vrou haar man en twee dogters aan die dood afgestaan.

Grobbelaar het gesê die gesinne het in ʼn houthuis met ʼn grasdak gebly. Die oorsaak van die brand is nog nie bekend nie. Twee van die vroue het glo met die baba uit die venster gespring toe hulle van die brand bewus geraak het. Daar word vermoed die pa’s wou eers hulle kinders red.

“Hulle was pragtige gesinne,” het Grobbelaar bygevoeg. “Bid dat die Here [die twee mans] kan aanraak met genesing. Bid vir die gesinne dat die Here hulle sal toevou in Sy liefde. Bid vir hulle ouers, vriende en gemeenskap.”

Die Op-die-Berg-gemeente kon nog nie in hierdie stadium verdere besonderhede verskaf nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

ElizeK ·

My hart gaan uit na almal wat deur hierdie tragedie geraak word. Die pyn wat julle nou ervaar moet oorweldigend wees. Woorde ontbreek my, maar ek weet dat baie baie christene wat nou hierdie berig lees julle in gebed opdra.

johanf ·

So tragies en hartseer, my innige simpatie met die oorlewendes, familie en vriende.

Kokerboom ·

So hartseer. Het nie woorde. Mag GOD die families in rou vertroos

Moedeloos ·

So bitter hartseer. Verneem vanoggend dat die pa wat in die Chris Barnard hospitaal was ook beskwyk het aan sy wonde. Liewe Jesus vou asb elke gesin en hul families toe in U Liefdes Skoot.

Marcello ·

Sterkte aan die die oorlewenes en hul families. Mens mag nie vra Hoekom en Waarom nie, maar net God alleen weet die Hoekoms en Waaroms,

Anoniem ·

Dit is Baie Baie jammer………………………hierdie tragiese gebeurtenis!!!!!

Danie ·

‘n Tragedie totaal buite enigeen se begrip.
Behalwe die oorlewendes, oupas oumas en res van die families moet ons ook dink aan die paramedisie en/of hulpverleners wat hierdie oorledenes moes gaan uithaal.
Mag hulle almal berusting vind.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.