Agt sterf weens boendoe-geregtigheid toe polisie nie reageer nie

Bheki Cele, minister van polisie. (Foto: Jairus Mmutle/GCIS)

Bheki Cele, die minister van polisie, het Zandspruit-inwoners verseker dat hul bewerings, dat die plaaslike polisiestasie nie op hul noodoproepe reageer nie, dringend ondersoek sal word.

Cele het Saterdag die informele nedersetting in Johannesburg besoek ná agt jeugdiges deur die gemeenskap doodgemaak is.

Cele en Faith Mazibuko, die provinsiale LUR van gemeenskapsveiligheid, het met die bestuur van die polisie in die provinsie vergader om meer inligting te kry oor die boendoe-geregtigheid en watter vordering die polisie in die saak gemaak het.

Cele het ook met gemeenskapsleiers vergader om te bepaal wat daartoe gelei het dat die gemeenskap reg in eie hande geneem het. Plaaslike gemeenskapspolisiëringsforums en ander gemeenskapsveiligheidstrukture het die inwoners se polisiëring- en veiligheidsbesware geopper. Hulle het gesê die Honeydew-polisiestasie, wat ook Zandspruit bedien, verskaf swak diens aan die gemeenskap.

Hulle beweer die plaaslike polisie is korrup en ignoreer soms hul polisiëringsbehoeftes. Sommige het gesê die agt jeugdiges, wat ernstig aangerand en aan die brand gesteek is, se afsterwe kon verhoed gewees het as die polisie betyds reageer het.

Cele het aan die gemeenskap, wat op die plaaslike sportgronde saamgekom het waar die moorde plaasgevind het, gesê hy is oortuig dat die gemeenskap van Zandspruit beter dienslewering verdien. Hy het onderneem om dringend ondersoek in te stel waarom die polisie se reaksietyd so stadig was die oggend van die aanvalle en dat stappe gedoen sal word.

“Die polisie in die gebied het ongetwyfeld baie uitdagings weens die toename in die getal inwoners en swak lewenstoestande wat misdaadbekamping verhinder,” het Cele gesê. “Sommige van die probleme wat die polisie ondervind is egter weens hul eie toedoen. Dit is betreurenswaardig dat die polisie ontbied is toe die jongmense nog geleef het, maar dit het die polisie ure gevat om te reageer. Ek het die provinsiale kommissaris opdrag gegee om die bewerings te ondersoek en ek verwag binne die volgende paar dae antwoorde.”

ʼn Taakspan is aangestel om ander probleme in die stasie te ondersoek en ou sake, wat sonder oplossing voortsleep, sal ook hersien word.

Cele het onderneem om binne ʼn maand weer die gebied te besoek om terugvoer te gee aan inwoners.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

22 Kommentare

jongste oudste gewildste
Nie Verbaas

N maand om terugvoering te gee? Besef Cele wat alles in n maand nog kan gebeur en dit is nie die enigste polisiestasie waar die laksheid sigbaar is nie? Dit is waar BEE die ANC plaas meneer.

Samuel

Bheki lieg weer deur sy tande. Hy is van niks oortuig nie, nl dat die mense beter dienslewering deur polisie verdien nie.

Hennie

So Idioot Cele weet nie waarom die gemeenskap reg in eie hande neem nie. Wat ‘n prop!

zonstar

Ons ALMAL verdien beter dienslewering!
Maar die “minister of bad hats and general dumbery” en kaders wil alewig ná sulke gevalle ondersoeke loods in plaas daarvan om minder te praat en vir ‘n verandering bietjie pro-aktief te raak.
Ek reken steeds die hele polisiemag kan maar ontbind word – hulle beteken niks vir die samelewing nie!

Persheks Adri

Nou kan jy vinnig gaan besoek aflê shame. Dis vir ons as eerlike burgers betreurenswaardig dat JY in beheer is van die polisie en die patesiese diens pffft tsek hoedeman