Agt ‘stropers’ binne 24uur vasgetrek

Argieffoto Foto: wwf.panda.org

Argieffoto Foto: wwf.panda.org

Edna Molewa, minister van omgewingsake, het wildbewaarders van die Krugerwildtuin geloof nadat agt vermeende renosterstropers vandeesweek binne 24 uur aangekeer is.

Volgens Reynold Thakhuli, woordvoerder van SANParke, is die agt verdagtes Woensdag in twee afsonderlike voorvalle in hegtenis geneem.

“In die eerste voorval het wildbewaarders in die vroeë oggendure op drie verdagtes naby die Krokodilrivier, suid van die park, afgekom. ʼn Oor-en-weer-skietery het uitgebreek waarin een verdagte gewond is,” het Thakhuli gesê.

Al drie verdagtes is in hegtenis geneem. Beslag is gelê op twee jaggewere, knaldempers, ammunisie en ander toerusting wat deur stropers gebruik word.

“Verdere ondersoek het later die dag tot die inhegtenisneming van nog vyf verdagtes buite die wildtuin gelei. Die inhegtenisnemings was ʼn gesamentlike poging van SANParke se wildbewaarders en die polisie.”

Die verdagtes moet binnekort in die hof verskyn op verskeie aanklagte.

Molewa het Donderdag die inhegtenisnemings verwelkom. “Ek wil ons wildbewaarders en ander wetstoepassers loof vir hul harde werk om renosterstropery te bekamp,” het Molewa gesê.

Sedert die begin van die jaar is ʼn totaal van 223 vermeende stropers landswyd in hegtenis geneem. Altesaam 129 van hulle is in die Krugerwildtuin aangekeer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

tina ·

Goeie nuus…die gierigheid van die mens wat tot ‘n val gebring MOET word. Watse afskrikmiddel kan daar tog wees – vra ek myself af – wat hierdie harde werk van hierdie wildbewaarders, SANparke en polisie nie ongedaan kan maak nie? Kan hierdie oortreders nie ‘n soort gedwonge gemeenskapsdiens doen vir ‘n tydperk, of in die wildtuin, onder die bewaking van bewaarders en polisie..sodat hierdie mense weer respek kan kry vir diere ( wat nog te se van mense wat uitgemoor word ).?

Anoniem ·

Jakes ek weet vir ‘n feit Zuma laat bou net weer ‘n ander een.
Welgedaan Sanpark bewaarders.

neelsie ·

Die beste nuus van die week!
Hou so aan , .
Gee daai stropers vir ons en vergeet van hulle.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.