Agt vas ná kitsbank in Bloemfontein opgeblaas is

Argieffoto (Foto: Kent Williamson)

Agt verdagtes is in hegtenis geneem ná twee mense geskiet is toe ʼn kitsbank by ʼn vulstasie in Bloemfontein beroof is.

Die agt mans, tussen 25 en 40 jaar oud, is in die Namibië-woongebied in hegtenis geneem, het lt.kol. Thabo Covane, polisiewoordvoerder, gesê.

Daar is op ʼn Kia-voertuig met ʼn Gautengse nommerplaat, twee ongelisensieerde vuurwapens en ammunisie beslag gelê. Die verdagtes sal na verwagting Maandag in die Bloemfontein-landdroshof verskyn.

Volgens Covane soek die polisie na nog verdagtes in verband met die voorval wat Saterdag in die vroeë oggendure in die Oos-Einde-nywerheidsgebied plaasgevind het.

Maroela Media het vroeër berig die polisie het reageer op ʼn skietery in MacGregorstraat en dat die blitspatrollie net voor 01:00 op die toneel aangekom het.

Die verdagtes het op polisiebeamptes losgebrand terwyl hulle van die toneel gevlug het. ʼn Kitsbank is oopgeblaas en die verdagtes het met ʼn onbekende bedrag kontant weggekom.

ʼn 30-jarige man is op die toneel gevind met skietwonde in sy maag en linkerhand. ʼn Lid van ʼn gewapendereaksie-maatskappy is ook in die maag geskiet en na ʼn plaaslike hospitaal geneem. Die slagoffers is geskiet en gewond toe hulle afsonderlik by die toneel opgedaag het terwyl die verdagtes die kitsbank beroof het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

efjy ·

Hulle sal vandag op parool vry gelaat word en niemand sal weer iets van die saak hoor nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.