Agt vas vir korrupsie by gesondheidsdepartement

Argieffoto

Agt verdagtes is Maandagoggend deur die Valke in Kimberley vasgetrek vir beweerde bedrog, geldwassery en korrupsie. Die verdagtes, almal tussen die ouderdomme van 29 en 64, word verbind met onreëlmatige tenders wat deur die Noord-Kaapse departement van gesondheid in 2013 en 2014 toegeken is.

Die Valke het ondersoek ingestel toe bewerings van onreëlmatighede aan die lig gekom het met betrekking tot die toeken van konstruksietenders deur die departement. Dié ondersoek het aan die lig gebring dat behoorlike prosedures nie gevolg is met die toekenning van ʼn kontrak ten bedrae van meer as R494 miljoen nie.

Die verdagtes sou Maandag in die landdroshof in Kimberley verskyn het. Volgens Nomthandazo Mnisi, woordvoerder vir die Valke, is dit onafwendbaar dat nog verdagtes in hegtenis geneem sal word.

Intussen is ʼn werknemer van die departement van binnelandse sake in hegtenis geneem en aangekla van korrupsie en bedrog. Kedibone Serumula, ʼn voormalige administratiewe klerk in Lephalale, Limpopo, het reeds Maandag in die landdroshof in Lephalale verskyn en is borgtog van R3 000 toegestaan. Sy moet weer 13 Augustus in die hof verskyn. Daar word beweer dat sy ʼn ander persoon gehelp het om ʼn kind op bedrieglike wyse te registreer deur iemand anders se besonderhede te gebruik. Sy het na bewering ook op ʼn ander geleentheid R4 500 van dié verdagte ontvang.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Eiervrug ·

Dis goed en wel as almal nou uitgevang word, maar gaan hulle kriminele rekords kry en hulle werk verloor?. Dit is wat ons wil sien!! Hierdie mense moet so gebrandmerk word dat hy/sy NOOIT weer ‘n betrekking sal kry nie. Dit is mos hoe die lewe moet werk. Elke ou kry net een kans, en as dit klaar is, is dit klaar…..

Kokerboom ·

Straf die kriminele kaders hard, swartlys hulle vir altyd en dank hul af. Laat hul ook al hul bates verbeur. Dit sal n boodskap deurstuur. Hoop nie ek is te optimisties

Pieter ·

Dit gaan nooit ooit op hou nie gaan orals in afrika so. Dit is hoe komuniste werk ons is klaar besig om in armoede te verval

marius ·

Hulle is eers vas as hulle sit en rys water met kakkerlakke daarin eet , vir ten minste 50 jaar. Andersins is hulle vry .

Scalla ·

Korupsie, diefstal en bedrog is deel van sommiges se lewe.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.