Agt vas vir tenderbedrog by gesondheidsdepartement

(Argieffoto: Steve Buissinne/pixabay)

Agt voormalige senior en uitvoerende amptenare van die Gautengse departement van gesondheid, asook private individue en entiteite, het hulself aan owerhede oorhandig vir hul beweerde betrokkenheid by ʼn multimiljoen rand se tenderbedrog by dié departement. Een verdagte is egter steeds in die buiteland op vrye voet.

Die inhegtenisnemings volg meer as tien jaar nadat die beweerde bedrog aanvanklik begin het.

Brig. Nomthandazo Mbambo, woordvoerder van die Valke, sê agt van die verdagtes het hulself aan die polisie in Johannesburg oorhandig, terwyl nog een verdagte glo in die buiteland is. Die proses om vir sy uitlewering aansoek te doen is reeds aan die gang.

Die nege hooggeplaastes staan nou tereg op aanklagte van bedrog, korrupsie, geldwasserye en ʼn patroon van rampokkery wat teen die departement gepleeg is.

Hul inhegtenisneming vorm deel van die tweede been van die Valke se ondersoek na bewerings van growwe onreëlmatighede wat tussen 2006 en 2010 by die departement plaasgevind het.

Vier senior amptenare van die Gautengse departement van gesondheid is reeds in Oktober verlede jaar in verband met hierdie saak in hegtenis geneem.

Volgens Mbambo het die departement verskeie kontrakte aan ʼn entiteit of regspersoon toegeken wat aanvanklik vir ʼn tydperk van twee jaar bedoel was, teen ʼn koste van R68 miljoen per jaar.

“Dié bedrag is egter na bewering met R221 miljoen oorbestee, sonder enige gevolge vir die betrokke individue,” sê sy.

Die kontrak is aanvanklik in 2007 aan die betrokke entiteit of regspersoon toegeken vir die stigting van ʼn projekbestuurseenheid (PMU). Só ʼn eenheid funksioneer binne ʼn munisipaliteit om infrastruktuur (kapitaal)‑projekte te bestuur.

“Die kontrak is in 2009 weer vir ʼn verdere drie jaar verleng sonder om dit aan ʼn oop tenderproses te onderwerp. Die koste van hierdie ooreenkoms het R273 miljoen per jaar beloop.

“Gedurende hierdie tydperk het verskeie senior en uitvoerende amptenare van die departement na bewering belonings van die hoofdiensverskaffer en subkontrakteurs ontvang in die vorm van geld, lenings, geskenke en betaalde vakansies, plaaslik sowel as internasionaal,” sê Mbambo.

“Daar word verder beweer dat nie een van hierdie amptenare die beweerde geskenke verklaar het nie.”

Die agt verdagtes sal na verwagting eersdaags in die Johannesburgse landdroshof verskyn, terwyl die negende een nog van die buiteland uitgelewer word.

Die ander vier amptenare wat verlede jaar in hegtenis geneem is, sal weer op 28 Januarie in die Palm Ridge-landdroshof verskyn vir hulle beweerde betrokkenheid by die saak.

Lt.genl. Godfrey Lebeya, hoof van die Valke, het die span geloof vir die inhegtenisnemings, ten spyte van die ingewikkelheid en omvang van die saak.

“Alhoewel hierdie ondersoek uitdagings van sy eie gehad het, is ek tevrede dat ons bedrywighede daartoe gelei het dat die verdagtes hulself oorhandig het,” sê hy.

“Die ondersoekspan en die betrokke aanklaers se pogings sedert die saak in 2011 aan die Valke oorhandig is, is merkwaardig.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

15 Kommentare

jongste oudste gewildste
Shakespeare

Skuim vd aarde die kaders in hoë en lae poste van bo tot onder.

Kokerboom

Behalwe tronkstraf moet die kaders van ALLE bates gestroop word asook op ‘n swartlys geplaas word

Wielspore

Om die berig te lees is soos ‘n rekenaar speletjie, daar gebeur heelwat op die skerm maar geen inligting word oorgedra. Daar is tender bedrog gepleeg en die lesers weet nie wie dit was.

casper

Net agt???
Ok so nog net 10500 om te gaan ne !!!

Marius

Hoekom neem dit 11 jaar om die skuldiges aan die pen te laat ry en hoe lank gaan die hofsake neem? Ek hoop die regsdokumente is reg opgestel en dat die ondersoeke en bewyse behoorlik geverifieër is. Die dosiere moet in ‘n brandvaste kluis bewaar word.