Agt vinnig vas ná rooftog op plaas

Foto: SAPD/Facebook

Flink optrede het daartoe gelei dat agt mense in hegtenis geneem is ná ʼn rooftog op ʼn plaas naby Mooirivier in KwaZulu-Natal.

ʼn Man wie se naam nie bekendgemaak is nie, was Vrydag in sy kantoor op die plaas besig toe twee voertuie daar aangekom het. Volgens brig. Jay Naicker, polisiewoordvoerder, het vyf mans die kantoor binnegegaan en die slagoffer van skootrekenaars, ʼn horlosie, selfone, vuurwapens en die inhoud van die kluis beroof. Sy hande en voete is vasgebind voordat die verdagtes van die toneel gevlug het.

Verskeie rolspelers is van die rooftog in kennis gestel en daar is vinnig opgetree. Een van die twee voertuie is opgemerk waar dit teen ʼn hoë spoed op die N3 gery het in die rigting van Pietermaritzburg.

Polisiebeamptes van verskeie eenhede en lede van private veiligheidsmaatskappye, insluitend Magma Security, het die voertuig agternagesit. ʼn Hoëspoedjaagtog het gevolg en die verdagtes se voertuig is naby Camperdown voorgekeer en vyf verdagtes, insluitend ʼn vrou, is in hegtenis geneem.

“Daar is vyf vuurwapens in die verdagtes se besit gevind asook ander items wat aan die slagoffer behoort. Daar is ook op die verdagtes se voertuig beslag gelê.

“Verdere ondersoek het die span na KwaMashu gelei waar drie verdagtes in hegtenis geneem is. Daar is op nog ʼn voertuig en ses vuurwapens beslag gelê. Daar is juwele en ander items wat tydens die rooftog gesteel is in die mans se besit gevind.”

Die agt verdagtes, tussen 24 en 51 jaar oud, sal na verwagting binnekort in die hof verskyn in verband met die rooftog.

Lt.genl. Nhlanhla Mkhwanazi, provinsiale polisiekommissaris, het die polisiebeamptes en ander rolspelers geloof vir hul vinnige optrede.

“Die uitstekende werksverhouding tussen veiligheidsbeamptes en polisiebeamptes wat tot die inhegtenisneming van hierdie berugte misdadigers gelei het, moet geprys word.

“Ons moedig alle rolspelers op die gebied van misdaadbestryding aan om voort te gaan om ons hulpbronne saam te voeg en saam te werk om die plaag van misdadigheid teen te staan,” Mkhwanazi gesê.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Werner ·

R 50 randjies borgtog vir jou en die res net op waarskuwing want dit is n plaas aanval

Edward Donald ·

Ek voel somma naar. Die tipe misdaad vind alhoemeer plaas en die regeringtjie al hoe stiller

Nic ·

dit is so cele en ramaposa stil stuipe oor plaas aanvalle beteken dit hulle steun dit ???

anniekiewiet ·

Ja, dis hartseer dat swak borgtog en vervolging die norm is waaraan ons gewoond raak, maar maak nie daardie mense se goeie speurwerk en inhegtenisnemings swak nie. Lekker om van sulke spanwerk te lees.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.