Agterstallige huur sluit Klein-Brak se poskantoor

Foto bloot ter illustrasie. (Foto: SA Post Office/Twitter)

Die poskantoor op Klein‑Brak naby Mosselbaai in die Wes-Kaap, is die afgelope naweek gesluit weens die poskantoor se versuim om sy huur te betaal.

Die Suid-Afrikaanse Poskantoor (Sapo) sê hy is al geruime tyd finansieel in die knyp en kan nie al sy verpligtinge nakom nie.

ʼn Kennisgewing oor die tydelike sluiting van Klein‑Brak se poskantoor is op die venster van die poskantoor aangebring om inwoners van die gebied daarvan in kennis te stel.

“Indien jy normaalweg jou medikasie, belangrike pos, ensovoorts van [hierdie poskantoor] kry, tref asseblief ander reëlings,” lui die kennisgewing.

ʼn Kennisgewing oor die tydelike sluiting van Klein‑Brak se poskantoor. (Foto: Verskaf)

Johan Kruger, woordvoerder van die poskantoor, het aan Maroela Media bevestig dat Klein‑Brak se poskantoor tans in ʼn dispuut is met die eienaar van die gebou waaruit die poskantoor bedryf word.

“Die betrokke poskantoor is agterstallig met sy huur,” het Kruger erken.

“Die poskantoor beplan wel om die dispuut op te los en beskou die sluiting as tydelik.”

Die poskantoor het onderneem om die uitstaande bedrag aan die eienaar van die gebou terug te betaal, maar kon nie die totale bedrag in hierdie stadium bekend maak nie.

Volgens Kruger het die poskantoor se inkomste tydens die Covid-19-pandemie getuimel “en het dit nog nie ten volle daarvan herstel nie”.

“Gevolglik kan [die poskantoor] sy finansiële verpligtinge slegs gedeeltelik nakom.”

Die vakbond Solidariteit het reeds die poskantoor hof toe gesleep nadat dit aan die lig gekom het dat Sapo agterstallig is met die betaling van huidige werkers en pensioenarisse se mediesefondsbydraes.

MEDiPOS eis nou die agterstallige bydraes van lede wie se mediese fonds reeds opgeskort is.

Dit is onduidelik tot wanneer die poskantoor op Klein‑Brak, wat slegs twee werknemers het om die klein gemeenskap te bedien, gesluit sal wees.

“Alle poskantore lewer belangrike dienste aan hul gemeenskappe en daarom beplan ons om die tak so gou moontlik te heropen,” sê Kruger.

“Tot dan word die personeellede by ander poskantore in die omgewing geakkommodeer.”

Alternatiewe poskantore is die Groot‑Brakrivier-poskantoor wat sowat 10 km van Klein‑Brak geleë is en die een in Mosselbaai wat sowat 13 km weg is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

Manie ·

Sluit die poskantoor in geheel, hulle dienste is al lankal deur privaat instansies oorgeneem. Persoonlik het ek ‘n appeltjie te skil met die poskantoor, dienspligtiges kon mos ou jare by die poskantoor gaan werk het om diensplig vry te spring.

DapperWoef ·

Sit ek so jaar of 3 terug op my psigiater se rusbank, gesels oor als wat my so angstig het.

Natuurlik sal die verval van die regering een van die gesprekspunte wees.

“HOE FOETER MENS DIE POSKANTOOR OP?” vra ek, met net so bietjie meer kruietaal as wat Maroela toelaat.

Eerste keer wat my Doktor nie kon antwoord nie, en net lag.

Pampoen ·

Daar is nou prima facie bewys dat die nuwe regering nie in staat is om enige iets suksesvol en eerlik uit te voer nie. Alles wat hulle hul hand aan slaan ontaard in ‘n gemors en korrupsie. Hulle verdien nie om te regeer nie.

Jakkie ·

Daar is vreeslik geskop deur die regering van die dag om die Poskantoor te privatiseer. Dit het veroorsaak dat die poswese ditself geprivatiseer het met n verskeidenheid koerier maatskappye wat pakkies en bestellings by jou huis aflewer. Die Poskantoor het nie gegroei en verander met tyd nie en is nou bankrot….mag dit sommer n les wees vir Eskom……

Antie Sarie ·

IS dit nou nuus? Ek weet van drie wat in Tshwane vir dieselfde rede toegemaak het. Sonder media dekking

DapperWoef ·

Dis waar briewe en pakkies heengaan om nooit weer gesien te word nie

Adriana ·

Ai mnr Kruger jy is darem naïef, vir iemand wat ook al soveel jare by die poskantoor werk en elke dag sien hoe dit verval, het ook jare daar gewerk, dit sal nooit weer sy glorie bereik wat dit was voor die huidige regering al die staatsdeparte oorgeneem het nie, die hele land is besig om te verval.

Niklaas ·

Dit gebeur nogal gereeld in SA deesdae. In Nelspruit is 2 takke onlangs gesluit en als is weggeneem daar. Seker maar alweer weens geen huur betaling , wie weet ?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.