Agterstand by Kaapstad-hawe ingehaal

Kaapstad-hawe se vragterminaal het nou agt hyskrane (Foto: Transnet)

Die Kaapstadse vragterminaal (CTCT) het teen Dinsdag die grootste deel van sy agterstand ingehaal. Slegs een skip lê nog op anker.

Andiswa Dlanga, bestuurder van die Wes-Kaapse terminale, sê die terminaal het verhoogde beskikbaarheid van toerusting om bedrywighede te versnel en doeltreffendheid te verbeter.

“Die sagtevrugteseisoen, wat strek van November tot Maart, het ʼn roemryke reputasie wêreldwyd, lewer ʼn groot bydrae tot ons ekonomie en verskaf werk aan baie Suid-Afrikaners. Ons is daartoe verbind om steeds meer inisiatiewe van stapel te stuur om ons logistiek te vergroot vir die sukses van die seisoen.”

Dlanga het aan kliënte verskoning gevra vir die vertraging en hulle bedank vir hul begrip.

Maroela Media het vroeër ook berig oor probleme by die Durbanse hawe. Voortdurende vertragings het ʼn ernstige agterstand by dié hawe – die land se grootste – veroorsaak en is besig om die Suid-Afrikaanse logistieke stelsel in chaos te dompel.

Volgens Roy Thomas, bedryf- en logistieke direkteur by Hume International, kan dit pryse van verbruikersgoedere in die komende maande laat opskiet en moontlik ʼn tekort aan sekere produkte veroorsaak.

Kaapstad-hawe (Foto: Transnet)

“Voorspellings toon dat dit tot drie maande kan neem om vaartuie wat tans by die hawe geanker is, se vrag af te laai. Dit voorspel baie slegte nuus vir verbruikers oor die feestyd, veral gegewe die verhoogde aanvraag oor die tydperk en die feit dat die meeste gesinne vanjaar beperkte begrotings nog verder wil rek.”

Sonder ʼn funksionerende logistieknetwerk is 60% van die land se ekonomie in gevaar, meen die Suid-Afrikaanse Vragversendersvereniging (SAAFF).

“Handel in goedere verteenwoordig die grootste deel van ons nasionale ekonomie en vereis die ononderbroke beweging van goedere,” het dr. Juanita Maree, uitvoerende hoof van SAAFF, vroeër gesê.

Die hawekrisis veroorsaak opeenhopings in hawens wat tot gevolg het dat skepe buite die hawens lê en wag. Volgens SAAFF kos die krisis Suid-Afrika miljoene rande per dag.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Anna84 ·

Stuur ‘n paar van die manne Durban toe om daardie krisis ook op te los!! Dit wys net weereens, dit kan gedoen word as daar ‘n wil is.

Bolandse Nooi ·

@Hussin … Ronel bedoel net in die WES-KAAP WORD GOED GEDOEN. Daar word nie weke, maande, jare gewag voor daar so half-weg-lusteloos “ietsie” gedoen word om ‘n probleem aan te spreek nie. Net Maandag is daar per helikopter oor die Kaapstadse hawe en aangrensende diepsee-ankergebied gevlieg en gesien hoeveel skepe lê geanker, wagtend om toestemming te kry om in die hawe vas te meer en af/op te laai … Vandag word daar gesê die “backlog” is afgewerk (nie dat ek dit 100% glo nie – Transnet Haweowerheid IS IMMERS ‘n SOE en ons weet hoe dié mense kan lieg!).

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.