Agterstand in DNS-toetse selfs groter

Foto ter illustrasie. (Foto: Unsplash)

Groot kommer heers oor die al groter wordende agterstand in DNS-toetse wat gedoen moet word om derduisende kriminele sake af te handel.

Die elektroniese registerstelsel van die polisie se forensiese laboratorium, wat bewysstukke vir DNS-ontleding bestuur, is steeds nie in werking nie, ten spyte van Bheki Cele, minister van polisie, se belofte maande gelede dat die probleem aandag geniet. Die aantal sake het sedert Mei vanjaar nog verder opgehoop en staan tans op 300 000 uitstaande sake, in vergelyking met die agterstand van 208 291 in Mei vanjaar.

Die drukgroep Action Society het intussen van ʼn betroubare bron verneem dat ongeveer vier bewysstukke in elke saak getoets moet word, wat beteken die agterstand van DNS-monsters wat getoets moet word, staan in werklikheid op 1,2 miljoen.

Die “katastrofiese agterstand” met die verwerking van DNS-bewysstukmonsters het Junie verlede jaar begin, toe die ou gerekenariseerde stelsel – bekend as PCEM (Property Control and Exhibit Management) – deur Forensic Data Analysts (FDA) afgeskakel is.

Cele het in Mei erken die agterstand is heeltemal onaanvaarbaar en dat die polisiediens hard werk om ʼn dringende omkeerplan in te stel ter wille van alle slagoffers van misdaad, veral vroue en kinders.

Volgens die DA het daar sedertdien dadels van Cele se beloftes gekom en talle slagoffers van misdaad wag steeds vir geregtigheid om te geskied. Andrew Whitfield, die DA se woordvoerder oor polisie, meen die polisie doen nie genoeg om die probleem van die DNS-toetsing op te los nie.

“Die polisie ervaar steeds ernstige uitdagings met die inwerkingstelling van dié sogenaamde omkeerplan en die aantal agterstallige sake het die afgelope twee maande toegeneem,” het Whitfield gesê.

Whitfield sê die party gaan nou aan die voorsitter van die polisie se portefeuljekomitee, Tina Joemat-Pettersson, skryf en versoek dat Cele, polisiekommissaris genl. Khehla Sitole, die nasionale forensiese laboratorium en die DNS-toesighoudingsraad dringend voor die parlement moet verskyn.

“Die portefeuljekomitee moet ondersoek of Cele die parlement mislei het oor die vordering in die hantering van die agterstand tydens die debat oor nasionale belang. As bevind word dat hy wel die parlement mislei het, moet stappe teen hom gedoen word,” het Whitfield gesê.

Action Society sê hy het reeds die DNS-toesighoudingsraad gevra om hom in te lig oor die huidige stand van sake rakende die polisiediens se omkeerstrategie. Die groep het egter geen terugvoer van die raad ontvang nie en die versoek na die forensiese laboratorium verwys.

Action Society het in Maart reeds sy regspan opdrag gegee om ’n formele klag teen die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) by die openbare beskermer (OB) in te dien.

Volgens Rineé Pretorius, woordvoerder van Action Society, lyk dit asof die toesighoudingsraad nie die verantwoordelikheid neem om die funksie van die DNS-eenheid so gou as moontlik te herstel nie. Sy sê die regering se reaksie op die oplossing van die DNS-agterstand is ook traag.

“Action Society het talle kere voorgestel dat die polisie ʼn vennootskap met private laboratoriums aangaan om met die DNS-agterstand te help oplos. Die regering moet gebruik maak van die beskikbare kundigheid in die private sektor om hulle te help om die agterstand uit te sorteer en om te verseker dat daar voortgesette funksionaliteit van stelsels is wat van kardinale belang is om suksesvolle skuldigbevinding aan geweldsmisdadigers te bewerkstellig,” het Pretorius gesê.

“Solank as wat hierdie krisis nie opgelos word nie, word hofsake van die rol geskrap weens gebrek aan bewyse en gewelddadige misdadigers loop vry rond.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Elize ·

Het Cele nie met sy eie mond gese hulle gaan privaat maatskappye inkry om te help nie? Daar is seker alweer nie geld nie!!

koos10 ·

Daar is soveel omkeer planne in die SAPS dat hulle in sirkels rondloop!

Misky ·

Met die misdaadsyfer (en dis net die wat aangemeld word) wat ons land het, sou mens dit ‘n prioriteit gemaak het. Geen verskonings nie. Punt.

Persheks Adri ·

Inderdaad onaanvaarbaar en ja hoed ons sien die harde werk volgens jou pffft

Jack ·

Seker een van die top swakste ministers van alle tye. Is daar enige iets in die land behalwe moord en bedrog waar ons nie agter is nie. Ek kan nie aan iets dink nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.