Agtjarige dood nadat skoolboelies haar aanrand

Argieffoto

Argieffoto

Die departement van onderwys in Gauteng sal die afsterwe van ʼn agtjarige dogter, wat glo by ʼn laerskool in Soweto deur drie skoolboelies doodgeskop en -geslaan is, ondersoek.

“Die saak is eers Maandag onder ons aandag gebring,” het Phumla Sekhonyane, woordvoerder van die departement, aan Sapa gesê. “ʼn Onafhanklike ondersoek word gedoen rakende die omstandighede van die voorval.”

Die Daily Sun het berig dat Lebohang Makala op 14 Februarie mank geloop het toe sy by die huis aangekom het. Haar bene was ook geswel. Sy het vir haar ma, Martha Makala, gesê drie seuns het haar, sonder rede, begin slaan toe sy saam met maats by die Batsogile Primêre Skool gespeel het.

“Lebohang het gesê een van die seuns het haar met sy vuis oor die kop geslaan. Die seuns het haar aangeval, gestamp dat sy omval en haar verder aangerand,” het Martha gesê.

Daar was glo in daardie stadium nie onderwysers by die skool nie en ander kinders kon nie enigiemand kry om Lebohang te help nie.

Die gesin het haar na die Chris Hani Baragwanath-hospitaal geneem. Dokters het haar met behulp van radiografie ondersoek en haar met medikasie huis toe gestuur. “Sy het die hele dag lank van pyn gehuil. Sy kon nie slaap nie en het regdeur die aand bly huil,” het Martha aan die koerant gesê.

Hulle is Donderdag weer hospitaal toe en sy het Vrydag, ʼn week ná die voorval, gesterf.

Dokters het aan die familie gesê Lebohang het uitermatige interne bloeding opgedoen.

Sekhonyane het aan Sapa gesê die skool het versuim om die saak by die departement aan te meld. Lebohang se ouers het Maandag die departement besoek en die saak by die polisie aangemeld. “Ons het dadelik ʼn span na die skool ontbied om die voorval te ondersoek en ʼn span wat berading aan die ma en leerlinge sal verskaf,” het Sekhonyane gesê. “Ons wil weet waarom die saak nie by die Gautengse departement van onderwys aangemeld is nie.”

Sy sê beamptes het Maandag met Lebohang se ouers vergader, maar kon nie die besonderhede van die gesprek bekend maak nie. “Alles wat hulle gesê het, sal deel wees van die ondersoek. Dit is baie tragies en ons is baie bekommerd,” het Sekhonyane bygevoeg.

Sy kon ook nie bevestig of die familie vergoeding sal ontvang nie.

Ao Kay Makhubela, woordvoerder van die polisie, het aan Sapa gesê ʼn saak is Maandag by die polisie oopgemaak. “Die ouers het die saak eers Maandag by die polisie aangemeld,” het Makhubela gesê. “Die skool het nie ʼn saak aanhangig gemaak nie.” Hy sê die polisie weet nie watter beserings die dogter opgedoen het nie. “Ons het slegs inligting ontvang dat die leerling by die skool beseer is. Die saak word ondersoek.” -SAPA

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.