Agtjarige se liggaam agter buitekamer gevind

(Argieffoto: Miguel Roberts/AP)

Die onlangse moord op ’n agtjarige kind van Katlehong aan die Oos-Rand het daartoe gelei dat die huis van ’n man wat deur lede van die gemeenskap van die moord verdink word, aan die brand gesteek is.

Die dogtertjie se liggaam is Maandag agter ’n buitekamer in die Motloung-afdeling van Katlehong aangetref nadat haar ma haar Sondagaand as vermis aangemeld het.

Brig. Mathapelo Peters, woordvoerder van die polisie, sê twee mense is intussen in verband met die moord ondervra hoewel hulle nie in dié stadium aan die moord verbind kan word nie.

Volgens Peters sal ’n nadoodse ondersoek die presiese oorsaak van die kind se dood bepaal.

“Die polisie doen ʼn beroep op die gemeenskap om die speurders toe te laat om die saak te ondersoek – ʼn saak wat sedertdien prioriteit geniet, net soos alle sake waarby kinders, vroue en bejaardes betrokke is.”

Panyaza Lesufi, LUR vir onderwys in Gauteng, het Dinsdag sy skok oor die moord uitgespreek.

Die dogtertjie was ’n gr. 2-leerder aan die Sekgutlong Primary School in Katlehong.

“Ons veroordeel die gruwelike dade van die oortreders wat betrokke was by die dood van hierdie leerder en ons wens is dat al ons leerders veilig sal wees,” het Lesufi gesê.

Lt.genl. Elias Mawela, provinsiale polisiekommissaris in Gauteng, het op sy beurt gevra dat die ondersoekbeampte die skuldige(s) so gou as moontlik aankeer.

“Ek doen ook ʼn beroep op die gemeenskap van Katlehong om hulself van boendoegeregtigheid te weerhou terwyl diegene wat inligting het wat kan help in die ondersoek, na vore moet kom.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Maggies ·

Ja, sluit hulle almal toe en weier om vir hulle borgtog toe te staan. Noem dit terrorism, brandstigting en poging tot moord.
Dan geskied geregtigheid.
Mens mag mos nie in dié land kwaad word en sê GENOEG IS GENOEG nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.