Agulhas II op pad om 62 seevaarders van Gougheiland te red

SA Agulhas II (Foto: Graham Bawden via Wikimedia Commons)

ʼn Suid-Afrikaanse navorsingsvaartuig en ysbreker, die SA Agulhas II, is op pad na Gougheiland in die Suid-Atlantiese Oseaan om 62 seevaarders te red wat op ʼn Belize-geregistreerde boot gewerk het.

Altesaam 47 Suid-Afrikaners is van die persone wat gered moet word ná die geo-navorsingskip, Geo Searcher, Donderdag ʼn rots getref het en water in die skip in begin lek het. Die ander seevaarders is van Namibië (4), Portugal (3), Brittanje (1), Ghana (2), Indonesië (1) en Tristan da Cunha (2).

Vernon Keller, woordvoerder van die Suid-Afrikaanse Maritieme Veiligheidsowerheid (Samsa) het gesê die seevaarders het die navorsingsvaartuig verlaat toe dit in slegte seetoestande teen 45 grade oorgehel het.

“Die seevaarders kon op lewensreddingsbote en ander kleiner vaartuie klim voor hulle van die noordelike deel van die eiland om die suidelike streek naby aan die Suid-Afrikaanse navorsingstasie beweeg het.”

Geen sterftes is aangemeld nie. “Hulle is op die kus bygestaan en almal was teenwoordig. Een seevaarder het geringe beserings opgedoen.”

Die Agulhas II het Vrydag reeds vertrek en sal na verwagting, onder goeie weerstoestande, drie dae neem voor hy by Gougheiland aankom. Die Agulhas II sal dan na verwagting teen Vrydag of Saterdag weer terug wees.

Die Agulhas II het twee helikopters aan boord om die seevaarders na die vaartuig te bring.

Gougheiland is sowat 2 600 km suidwes van Kaapstad en is baie strategies vir Suid-Afrika se weersnavorsing en -voorspelling.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

3 Kommentare

jongste oudste gewildste
FM

Klompie jare terug by Antartika, Marion en Gogh eilande gewerk.

Die Suid see is nie mak nie

Hoop dat hulle ‘n veilige heen en terug vaart sal hê

Sarel

Geen ongevalle is goeie nuus