Ahmed Kathrada-stigting wil met H&M vergader

EFF-betoging by H&M (13 Januarie 2018) Foto: @effjoburg, Twitter

Die Ahmed Kathrada-stigting het Maandag gesê hulle moes hul “vreedsame protesaksies” by H&M-winkels in Johannesburg kanselleer nadat EFF-betogers die afgelope naweek verwoesting by dié winkels gesaai het.

Neeshan Balton, uitvoerende direkteur van die stigting, het gesê die stigting se plan was om vreedsame protesaksies te organiseer – die eerste van dié geleenthede sou Maandag by H&M in Sandton plaasvind.

“Ons was in gesprek met verskeie Suid-Afrikaanse bekendes insluitend Motlatsi Mafatshe wat belanggestel het om deel te wees van vandag se demonstrasie. Ná die naweek se betogings deur die EFF het ons dit egter kanselleer,” het Balton gesê.

Balton het gesê hoewel dit belangrik is om rassisme sigbaar in die samelewing te takel, sou die stigting verkies het dat protesaksies omtrent die voorval sonder enige vandalisering plaasgevind het.

Hy het gesê die werknemers van H&M moet nou die gemors wat deur die EFF agtergelaat is hanteer.

“Bo en behalwe die feit dat dit nou die werkers is wat die gemors moet skoonmaak, lê die aksie wat oor die naweek plaasgevind het ʼn grondslag vir verandering deur vrees en nie ʼn opregte bereidwilligheid om te verander nie,” het Balton gesê.

Volgens hom verg die uitwissing van rassisme samewerking met ondernemings en organisasies om te verseker dat hulle die kwessies verstaan en weet hoe, en toegewyd is om beleid, strukture en prosedures te verander om met teenrassisme-waardes te strook.

“Ons wil egter Suid-Afrikaners loof omdat hul verseker dat rassisme ʼn onderwerp bly waaroor mense praat en ons hoop dat die sterk veroordeling van die advertensie ook omgeskakel word in betekenisvolle aksie teen rassisme binne die verkoops- en advertensiesektore. Vanjaar sal teenrassismeweek weer van 14 tot 21 Maart gehou word en die voorgestelde tema is “Rooting out Racism”. Ons hoop alle Suid-Afrikaners sal deelneem en bewusmaking rondom rassisme bewerkstellig en idees uitdink oor hoe om diepgewortelde rassisme binne verskeie sektore uit te roei.”

Die stigting het verlede week aan H&M-winkels geskryf en ʼn vergadering oor die aangeleentheid aangevra.

Lede van die EFF het Saterdag H&M-winkels by verskillende winkelsentrums verwoes.

Dit het gekom nadat dié Sweedse handelsnaam verlede week ʼn herrie op sosiale media ontketen het toe ʼn foto van ʼn swart kind wat ʼn oortrektop met die woorde ‘Coolest monkey in the jungle’ daarop die lig gesien het.

Plaaslike en internasionale bekendes het die handelsmerk veroordeel en duisende klante het vir ʼn wêreldwye boikot gevra.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

16 Kommentare

Veronica ·

My genade!!! H&M het mos nou omverskoning gevra en die produk teruggetrek… kan die mense nie net dit nou los nie?? Gaan aan met jul lewens, om so in die verlede te lewe bereik net mooi niks. Daar is belangriker probleme in dié land van ons as ‘n verdomde top wat mense se gevoelens seermaak.

J ·

Dit is baie hartseer dat mense so optree, die H&M groep het hulle nie beledig nie, hulle het dit self gedoen. Dit is baie oulik woorde op die klere, iets wat ons almal seker ons kinders al genoem het. Die seuntjie het boonop oulik gelyk in die kleurtjies.

Dorita ·

Daar is baie mense wat wonder oor die omgekeerde rassisme in vandag se samelewing. Ons is egter met respek en waardes grootgemaak om nie amok en verwoesting te saai nie. Ons is geleer niks is jou REG nie. Jy moet werk en verdien wat jy in jou lewe wil hê. Tot die kind se ma is stom geslaan oor die herrie wat diegene wat voel alles is hulle reg veroorsaak het.

zeno ·

Siek besigheid,as`n wit kind die top aangehad het,wat dan? in alles word net na eenkant gekyk.

Francois ·

Julius Malema se in dieselfde asem ‘skiet die boer’ en aan die ander kant die wittes en groot korporatiewe griepe is rasiste…..Julius Malema is besig met monkey business. Hy is n opstoker van rasse haat in SA.

snoefie ·

ag asseblief, word net groot. het die kinderagtige strooi nie ver genoeg gegaan nie? pik verdomp by. die swede weet nou dat hulle uitverkorenes klein van gees is en nie oor die mees basieste eienskap van Christenskap, VERGIFNIS beskik nie. goed so vir h&m.

Jacques venter ·

Ek stem nie saam met EFF se optrede nie, maar verstaan dit.
Vir eeue is swart mense uitgebyt en die verskriklikste name genoem.
Nou weier mense om vanaf die swartman se perspektief na die gebeure te kyk

HP ·

Hi Jacques. Die meeste van die EFF ondersteuners het nie eens in daai tyd gelewe waarvan jy nou praat nie. Wat sou jy en hulle nou gese het as ‘n blanke kind die hemp aan gehad het? Hulle verdraai alles om by hul politieke speel bal te pas. Kleinlik dink ek in my opinie.

Adri Krugel ·

Ons arme kinders, wit en swart kinders. Ek kan net dink hoe trots sy mamma op hom was dat gekies was om model te speel vir so groot handelsnaam. Ek vir een sou verseker bitter trots gewees het. Nou kom maak grootmense dit weer ‘n rasse saak. Ons kinders sien nie wit of swart nie, ons kinders sien maats en iemand om meer te speel en te leer ken. Wat n trotse oomblik moes wees het die kind tien teen een nou laat voel hy het iets verkeerd gedoen en daarom word al sy fotos nou afgehaal en verwoes. Dis onregverdig want op die einde word daai kindjie benadeel en afgebreuk, niemand anders nie.

Benji ·

As die slogan was: “coolest fish in the sea”
Sou dit ook n probleem gewees het….????

Verstom ·

Soos die ma van die kind wat in die advertensie was gesê het “get over yourself”.

Jacques venter ·

HP en Adri Krugel
Ek probeer weer. My vorige bydraes is nie geplaas nie. Selfs Malema se ma was n huishulp. So die invloed van apartheid het hy deeglik gevoel.

HUISHULP ·

EN nou is hy ‘n multi miljoener EN JY NIE, so voel jy dat iets jou nou BYT? Dis belaglik man .. baie van ons se ouers was brandarm, maar steeds het ons nie hierdie CHIP op die skouer nie. HOE lank moet die invloed van apartheid nog vir ‘n verskoning vir VANDALISME gebruik word? Solank mense soos jy dit GOEDKEUR, so lank gaan dit voortgaan. NET TOT DIT JOU Eiendom is, dan gaan jy ‘n ander deuntjie sing.

Pieter Bester ·

Mooi so EFF, enJulius. Daar gaan nog n maatskapy uit SA. Duisende rande en
honderde ‘JOBS’ daarmee heen. Ek stem saam met een van die vorige komentare
hierdie mense moet net groot word!

Braam Maree ·

Ek kan nie verstaan wat die Kahatrada stigting daar wou gaan soek as H + M al n week vroeer die kledingstuk onttrek en onvoorwaardelik om verskoning gevra het nie. Soek julle publisiteit?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.