Die African Independent Congress (AIC) sê bewerings dat dié party stemme gekry het wat vir die ANC bedoel was, is ʼn belediging.
Die party se naam het direk bo die ANC se naam op die nasionale stembrief verskyn.
“Ons party is in 2005 gestig en ons mense ken ons,” het Lulama Ntshayisa, die party se adjunkpresident, Vrydag gesê. “Om te sê dat ons ANC-stemme gekry het, ondermyn ons party.”
Ntshayisa het gesê die party wou in al nege provinsies meeding, maar het nie genoeg fondse gehad om dit te doen nie. “Ons het ʼn tekort aan hulpbronne om in al die provinsies mee te ding. Ons is nie verbaas dat ons nasionaal so goed presteer het nie, want ons het lede in al die provinsies,” het hy gesê.
Hy het ontken dat kiesers die AIC met die ANC verwar het.
Die AIC het Vrydag om 10:00 reeds 91 010 stemme gewerf. Die party is in die Oos-Kaap gebaseer en het in die Oos-Kaap en Wes-Kaapse provinsies meegeding.
Die party het reeds 16 533 stemme in die Oos-Kaap verwerf, en 6 266 in die Wes-Kaap. – SAPA