‘Ajay Gupta het my met die dood gedreig’

Mcebisi Jonas (Foto: Getrude Makhafola/ANA)

ʼn Senior beampte van die Valke het Mcebisi Jonas se saak teen die Gupta-familie probeer doodsmoor, het die kommissie van ondersoek na staatskaping Vrydag gehoor.

Jonas, voormalige adjunkminister van finansies, het getuig hy het ʼn oproep van die Valke ontvang nadat hy ʼn mediaverklaring uitgereik het met besonderhede oor sy ontmoeting met Ajay Gupta, Duduzane Zuma en Fana Hlongwane. Jonas het destyds beweer Ajay het hom omkoopgeld van R600 miljoen aangebied om bevordering tot minister van finansies te aanvaar.

Volgens Jonas was sy regsverteenwoordiger, Max Boqwana, saam met hom by die vergadering met genl.maj. Zinhle Mnonopi van die Valke.

Mnonopi het glo aan hom gesê die saak is ʼn “DA-kwessie”. “Sy het gesê ek wil nie aan die kant van die DA wees nie. Sy het gesê daar is geen saak nie en dat hulle die saak sal doodsmoor.”

Volgens Jonas wou Mnonopi hê dat hy ʼn verklaring onderteken waarvolgens hy nie bewyse het van sy bewerings nie, hy nie ʼn saak by die polisie aanhangig gemaak het nie en hy nie bereid sou wees om dit in die toekoms te doen nie.

Jonas het getuig hy het geweier om die verklaring te onderteken en dat hy later ʼn verklaring aan die Valke gestuur het met die besonderhede van sy klag teen die Guptas.

Ajay en Atul Gupta (Foto: ANA)

Jonas het vroeër tydens die verrigtinge beweer Ajay het gedreig om hom dood te maak indien hy inligting bekend gemaak het oor sy ontmoeting met die Guptas.

Jonas het besonderhede verskaf oor die vergadering wat in Oktober 2015 plaasgevind het. Volgens hom het Duduzane hom versoek om ʼn vergadering by te woon sonder om enige verdere besonderhede te verskaf.

Hy het na die plek waar hulle sou vergader gegaan, en toe gesien dit is die Guptas se huis in Saxonwold. Hlongwane het eerste by hulle aangesluit voor Ajay later die vertrek binnegekom het.

“Hy het my nie gegroet nie en net soos ʼn radio begin praat. Hy het gesê die ou man [Jacob Zuma] hou van my. Duduzane en Hlongwane het stilgebly asof hulle nie bestaan nie. Gupta het aan my gesê hulle het intelligensie-inligting oor my en dat ek saam met Gwede Mantashe [destydse sekretaris-generaal van die ANC] en Zweli Mkhize [destydse ANC-tesourier] werk en dat dit nie goed is nie, aangesien hulle die slegte ouens is.”

Volgens Jonas het Gupta gesê hulle het hom na die vergadering ontbied om meer oor hom te leer aangesien Zuma so baie van hom hou. Gupta het aan hom gesê Nhlanhla Nene gaan afgedank word as minister van finansies en dat Jonas die pos sal kry indien hy instem. Gupta het hom R600 miljoen aangebied en ook gesê hy sal op daardie oomblik vir hom R600 000 daarvan in kontant gee.

Duduzane Zuma. Foto: Nokothula Mbatha/ANA

Jonas het opgestaan, want hy moes ʼn vlug na Kaapstad haal, en het aan hulle gesê hy soek nie die geld nie. Volgens Jonas het Gupta agter hom aangeloop en gevra: “Weet jy met wie jy te doen het? Jy dink dit is onwettig? Dit is wettig… ons maak R6 miljard van staatsinstellings en ons wil dit tot R8 miljard laat groei, maar die tesourie staan in ons pad.”

Gupta het glo ook tydens die vergadering gespog dat hulle saam met Brian Molefe, voormalige uitvoerende hoof van Eskom, werk; sowel as Lynne Brown, voormalige minister van openbare ondernemings; en dat hulle albei dié persone baie ryk gemaak het.

“Hierdie vergadering het nie gebeur nie. Jy sê niks vir niemand nie. As jy vir iemand sê, sal ons jou doodmaak,” het Gupta toe glo aan Jonas gesê.

Volgens Jonas het die vergadering hom geruk en het hy besluit om mense wat hy vertrou, insluitend minister Pravin Gordhan en Nene, daarvan te vertel.

Jonas het aan die kommissie gesê hy is ook tydens die vergadering ingelig dat hy – indien hy minister sou word –ʼn nuwe personeelkorps by die tesourie sou kry, insluitend ʼn nuwe direkteur-generaal, personeelhoof en verkrygingshoof. Volgens hom het Gupta die destydse direkteur-generaal en personeelhoof as “arm en nikswerd” beskryf.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

16 Kommentare

FM ·

En nou gaan hulle seker sê Jonas lieg. Staan vas Jonas. Almal staan agter jou behalwe die zumas en die guptas. Hou by dit wat jy gesê het. Sterkte.

Duncan Potgieter ·

Die wiel het lank geneem om te draai.
Die wolf se ware kleure word nou ontbloot – die korrupte JZ wolf met sy pelle.
Die korrupte Guptas en Molefes asook die al “President`s Keepers” van JZ se tydjie word kort – julle hoort in die tronk.
Verbeel jou ANC mense in SA ondersteun vir die korrupte JZ en al sy meelopers – DIS `N SKANDE.

Zella ·

Dit is alles skokkend. Gedink sulke goed bestaan net in movies. Klink alles net soos die mafia gewerk het

Harrie ·

Welgedaan Mcebisi !!! Hierdie land benodig meer mense soos U !!!!

Evert Nel ·

Genoeg rede om die spul te verhoor en in die tronk te gooi!! Jonas is ver verhewe bo die kaders van Zuma !!

temba ·

wys net wat het die guptas van zuma en sy rasgenote gedink en tog het dit hulle welgeval

Henk du Toit ·

Daar sal dadels van kom. die Guptas sal mooit SA toe om pa te staan nie. Smerige lot skuim.

Robert ·

Henk: daar is vordering met die proses met uitlewering van die Guptas. Hou die nuus dop.

Vonnie ·

Danksy sulke mense kan ons nog die land uit die gemors red. Trots op mense wat opstaan vir die waarheid.

Lerato ·

Mcebisi Jonas
Pravin Gordan
Makhosi Khosa
Teror Lekgota
Cyril Ramaphosa
Mmusi Msimane
Vytjie Mentoor
Moegeng Moegeng

Marie Visser ·

Dit is nou ‘n man van staal! Ons bid vir jou mnr Mcebisi.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.