AKA-moord: Nog ʼn verdagte vas; Cele gekap oor aankondiging

Kiernan “AKA” Forbes en die sjef en sakeman Tebello “Tibz” Motsoane is op
10 Februarie verlede jaar buite ʼn bekende restaurant in Durban doodgeskiet. (Foto: Instagram)

Die polisie het bevestig dat ʼn sewende verdagte wat ook gesoek word in verband met die opspraakwekkende moord op die kletsrymer Kiernan “AKA” Forbes en die sjef en sakeman Tebello “Tibz” Motsoane, ook in hegtenis geneem is.

Bheki Cele, minister van die polisie, en lt.genl. Nhlanhla Mkhwanazi, polisiehoof in KwaZulu-Natal, het laat Dinsdagaand bekend gemaak dat ses verdagtes vir die moorde in hegtenis geneem is en dat ʼn sewende verdagte nog soek is.

Volgens Lirandzu Themba, Cele se woordvoerder, is die sewende verdagte vroeër vandag vasgetrek.

Vyf van die verdagtes sal Donderdag in die Durban-landdroshof verskyn.

Die polisie het tydens Dinsdagaand se mediakonferensie bekend gemaak die 35-jarige musikant is van die Durbanse lughawe tot by sy hotel in Umhlanga en daarna tot by die Wish-restaurant waar hy en Motsoane (34) doodgeskiet is, gevolg.

Twee van die verdagtes is in Eswatini (voorheen Swaziland) aangekeer en moet nog na Suid-Afrika gebring word.

Okkie Terblanche, DA-LP en die party se woordvoerder vir polisie, het egter na Cele gekap oor die laataand-mediakonferensie om die deurbraak in die moordondersoek aan te kondig en gesê dit is ʼn belediging vir duisende gesinne wie se geliefdes vermoor is en wie se sake onopgelos is.

“Terwyl hierdie hoëprofielsaak met reg openbare aandag getrek het, het Cele die geleentheid gebruik om goedkoop politieke punte aan te teken deur ʼn mediakonferensie te hou om aan Suid-Afrika te wys dat die SAPD sy werk doen wat hy veronderstel is om dit te doen.”

Terblanche meen Cele het in sy rampspoedige termyn dikwels gekies om te fokus op publisiteitsgeleenthede wat vir hom steun sal werf, eerder as om sy grondwetlike plig na te kom om toesig te hou oor doeltreffende polisiëring.

“Dit is ʼn verleentheid dat die minister die inhegtenisnemings van persone vier wat meer as ʼn jaar geneem het om af te handel. Terwyl Cele die geleentheid gebruik om voor die kameras te paradeer vir ʼn saak wat al langer as ʼn jaar sloer, laat hy na om ons te vertel van die 27 494 moorde wat verlede jaar plaasgevind het, die 25 181 moorde die jaar tevore, of die 19 972 moorde voor dit, en hoe hierdie misdadigers voor die hof gebring is.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Ina ·

Dis iets wat van kleintyd af saamkom. Jy sal alles doen net om jou ou gesiggie op die groot skerm te sien. Hy het sekerlik nog nie groot geword nie

Johanncb ·

En nou glo Min Cele misdaad is onder beheer! Shame, give the man a Bell’s!

TO ·

Lekker as jy aan die regte kant speel, maar vir die idiote wat niks beteken gaan 16 jaar verby sonder dat ‘n vinger verroer word

Althes ·

Die misdaadsstatistieke is onrusbarend maar ons jetsetter van ñ minister vlieg van die een saak na die ander op belastingbetalers se onkoste.
Terwyl die burgers van SA daagliks vrees om nie ñ misdaadstatistiek te word nie.

Martie ·

Maar wat maak hy dan nou daar, dis mos saak vir polisie, hy minister. Snaaks dat ons ander se mense wat vermoor word nooit soveel aandag kry nie en moet maar wag tot die polisie eendag tyd het. Anders word die saak net gebêre.

Danie ·

Dis baie eenvoudig die polisie het geen idee gehad wie die moorde gepleeg het nie.As dit nie vir ballisties was wat verdere arrestasies meegebring het nie.Wie se die moordenaars is dieselfde dkieters in aka se toneel???

Cassie Carstens ·

Ek wonder of die polisie minister weet wat grondwetlike pligte en doeltreffende polisiëring beteken. Al wat hy kan doen is spog. Leë dop!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.