‘AKA se stem moet nie stil word nie,’ sê geliefdes tydens roudiens

(Foto: Nono Events/Facebook)

Suid-Afrika se gewildste kletsrymkunstenaar, Kiernan Forbes oftewel AKA of Supa Mega, is Vrydag finaal gegroet nadat hy presies ’n week gelede buite ’n restaurant in Durban doodgeskiet is.

Die 35-jarige Forbes se roudiens is in die Sandton-konvensiesentrum in Johannesburg gehou. Die gebou was volgepak, met nog mense wat buite gestaan en hulde aan die musikant gebring het.

Vriende, familie en aanhangers – wat bekend staan as die Megacy – het byeengekom in swart T-hemde waarop staan “Live long, Supamega, live long” en “In loving memory of AKA”.

Forbes se ouers, Tony en Lynn, broer, Steffan, en sewejarige dogter, Kairo, se trane het vlak gesit wanneer geliefdes oor sy nalatenskap gepraat het.

Forbes is verlede Vrydag voor die Wish-restaurant in Floridastraat, Durban, saam met sy vriend Tebello “Tibz” Motsoane doodgeskiet. Die polisie vermoed dat dit ’n moontlike sluipmoord was.

Lynn het self in ’n hartroerende huldeblyk gesê dat Forbes se nalatenskap as musikant nie moet eindig nie, maar voortgesit word.

“AKA se stem moet nie stil word nie,” sê Lynn.

“As Kairo eendag op sosiale media is, moet sy oorweldig word met inskrywings oor haar pa se nalatenskap wat steeds gevier word.”

Forbes se ma Lynn aan die woord (Foto: Skermskoot)

Lynn beskryf haar seun as “selfgedrewe en hardwerkend”, asook daarop gefokus om uitnemende produkte aan sy aanhangers te lewer.

“Hy het geweier om middelmatig te wees,” het Lynn gesê.

Lynn het die Megacy toegespreek en vir hulle gesê dat “hulle die wêreld vir Forbes beteken het”.

“Hy het altyd oor julle gepraat. Julle is die beste wat hom geïnspireer het om ’n beter musikant te wees.”

Forbes se pa Tony (Foto: Skermskoot)

Lynn vertel Forbes sou soggens 03:00 na haar toe kom en meedeel dat hy ’n nuwe liedjie geskryf het en dat sy daarna moet luister.

“Ek sou dan saam met hom sit en na die liedjie luister. Hy het graag oor sy aanhangers en familie gepraat en die invloed wat hulle op sy lewe het.”

AKA se nuwe album, Mass Country, word volgende Vrydag uitgereik.

Kabelo Mabalane, Forbes se geestelike mentor, het gesê hy bid dat dié album sy grootste en suksesvolste album sal wees.

Ander bekende musikante in die bedryf het ook hul medelye met Forbes se familie betoon en vertel hoe ’n groot invloed hy (Forbes) in hul persoonlike en professionele lewe gehad het.

(Foto: Nono Events/Facebook)

DJ Tira noem Forbes “die koning van Suid-Afrikaanse radio” wat altyd boaan die speellyste was.

“Hy was een uit ’n miljoen, wat baie omgegee het vir die musiekbedryf,” sê DJ Tira.

Hy het ’n beroep op die regering en gemeenskap gedoen om dringend iets te doen om misdaad hok te slaan.

“Dit gaan hier nie net oor die sterfte van ’n bekende musikant nie, maar ook oor die veiligheid van alle Suid-Afrikaners.”

DJ Oskido sê Forbes was op die voorgrond toe die kletsrymbedryf in Suid-Afrika begin groei en kommersieel geraak het. Dié twee musikante het mekaar 15 jaar geken.

Hy het ook vertel hoe baie tyd Forbes met sy dogter deurgebring het en die liefde wat hy as pa vir haar gehad het.

Yanga Chief vertel hoe Forbes sy lewe oornag verander het toe hy hom in 2007 ontmoet het.

“Hy het my geleer van perfeksie en om niks middelmatig te doen nie. Idees het uit hom gevloei en hy het sy nalatenskap met harde werk oor die jare gevorm,” vertel die musikant.

“Hy het my gemotiveerd en geïnspireerd gelaat. Nie net wat musiek betref nie, maar ook met hoeveel respek en liefde hy sy naaste hanteer het.”

Yanga Chief sê hy kan rustig in die aande slaap met die gedagte dat Forbes sy doel op aarde bereik het.

“Jy het jou musiekdroom bereik.”

Die premier van Gauteng, Panyaza Lesufi, het tydens die roudiens gesê dat Forbes “se afsterwe te swaar is om te verwerk”.

“Die land het ’n groot talent en patriot verloor. Hy het altyd die Suid-Afrikaanse vlag hoog op die verhoog laat wapper,” sê Lesufi.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.