Akademia as Afrikaanse gemeenskapsuniversiteit bekend gestel

Foto: Reint Dykema

Foto: Reint Dykema

Solidariteit het Akademia vandag as Afrikaanse gemeenskapsuniversiteit bekend gestel.

Meer as 20 Afrikaanse gemeenskapsorganisasies en talle gemeenskapsleiers het die geleentheid bygewoon. By dié geleentheid is ʼn Akademia-gemeenskapsforum gestig waar Akademia op ʼn jaarlikse basis met die Afrikaanse gemeenskap oorleg sal pleeg. By die bekendstellingsgeleentheid is hulde gebring aan Afrikaanse individue wat wêreldklasprestasies behaal het en in Afrikaans gestudeer het.

“Solidariteit het die noodsaaklikheid van ʼn Afrikaanse private universiteit van hoë gehalte besef. Alhoewel Akademia uit Solidariteit gebore is, wil ons graag die instelling vir gebruik aan die totale Afrikaanse gemeenskap beskikbaar stel,” het Flip Buys, voorsitter van die Solidariteit Beweging, gesê.

Akademia is in alle opsigte ʼn hoëronderwysinstelling uit en vir die Afrikaanse gemeenskap. Akademia word hoofsaaklik gefinansier deur die maandelikse R10-bydraes van Solidariteit-lede en ʼn borgskap van R7 miljoen deur die Virseker Trust, wat deur ʼn gedeelte van die premies van Virseker-polishouers befonds word. Voorts word Akademia ook danksy bydraes van die publiek befonds.

By die geleentheid is hulde gebring aan mense wat in Afrikaans gestudeer en wêreldklasprestasies behaal het. Dié individue sluit onder andere sakeleiers in soos Anton Rupert, Christo Wiese en Johan van Zyl, wat die eerste nie-Japanner in Toyota se wêrelddireksie was. Skrywers soos Deon Meyer en Elsa Joubert is ook gehuldig. Daar is ook hulde gebring aan kernwetenskaplikes soos Wally Grant en Nic von Wielligh, sowel as aan die hoof van NASA se eenheid vir navorsing, Japie van Zyl, en aan Herman Steyn, die ontwerper van die momentwiel van die landingstuig Philae, wat pas op ʼn komeet geland het.

“Deur hulde te bring aan mense wat wêreldklasprestasies behaal het en in Afrikaans gestudeer het, wil ons die mite dat Engels ʼn voorvereiste vir akademiese en professionele prestasie is, die nek inslaan. Akademia wil die tradisie van wêreldklasprestasie in Afrikaans voortsit,” het Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit, gesê.

Akademia het ook aangekondig dat hy, afgesien van sy graadkursusse in ekonomiese wetenskappe, ook grade in regte en verpleegkunde gaan ontwikkel. Akademia beplan om ʼn volledige akademiese aanbod te ontwikkel.

Volgens Marthinus Visser, besturende direkteur van Akademia, maak Akademia gebruik van ʼn hoëtegnologie-onderrigmetode wat klasse deur middel van interaktiewe videokonferensietegnologie regstreeks na sewe sentrums dwarsoor Suid-Afrika uitsaai. Deur dié onderrigmetode haal Akademia die afstand uit afstandonderrig uit. Studente kry ook tabletrekenaars wat by hul klasgelde ingesluit is.

Klik hier om Flip Buys, voorsitter van Solidariteit Beweging, se toespraak by die geleentheid te lees.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.