Akademia besoek VSA om nuwe denkskool in SA te vestig

akademia.jpg

Die Akademia-kampus. Foto: Verskaf

Akademia onderneem die volgende twee weke ʼn akademiese toer na die Verenigde State van Amerika om ʼn aantal kolleges en universiteite te besoek wat spesifiek ʼn samehang van opvoeding én opleiding nastreef.

Hierdie benadering ontbreek tans in Suid-Afrikaanse universiteite, wat oënskynlik slegs op opleiding gefokus is. Die doel van Akademia se Amerikaanse besoek is om ʼn dieper begrip van dié holistiese benadering en die organisatoriese aspekte daarvan te verkry, aangesien Akademia juis so ʼn denkskool in Suid-Afrika vestig.

Marthinus Visser, Akademia se besturende direkteur, pak die toer saam met die instelling se registrateur, Liana Venter, adviesraadslid prof. Danie Goosen, asook ʼn aantal ander belanghebbendes binne die Solidariteit Beweging aan. Die afvaardiging gaan die Hankammer Sakeskool aan Baylor Universiteit, Hillsdale College en Grove City College besoek.

Goosen verduidelik dat Akademia se opvoedingsdoel geanker is in die strewe om aan studente ʼn geïntegreerde beeld op die werklikheid te bied, in navolging van die denkskool wat opvoeding (as interdissiplinêre begrip vir hoe die werklikheid inmekaarsteek) én opleiding (as vakspesifieke kennis en kundigheid) vooropstel. “Anders geformuleer, die doel is om die studente daartoe te lei om hulself as deel van ʼn groter idee-historiese verhaal, wat strek vanaf die verlede na die toekoms, te verstaan.”

Volgens Goosen ontbreek hierdie doel vandag aan die meeste universiteite wêreldwyd, waar daar ʼn oordrewe fokus op opleiding, ten koste van die rigtinggewing van opvoeding, is. Daarom word nie net hulle funksie ernstig bevraagteken nie, maar ook die belangrikheid van tersiêre instansies wat nie slegs burokraties te werk gaan nie onderstreep.

“Hierdie kwessie sal in die hart van die gesprekke staan met die universiteite wat ons gaan besoek. Die een enkele vraag is: Hoe lyk ʼn universiteit wat so ʼn geïntegreerde beeld van die werklikheid as doel najaag?”

Tydens die besoeke aan die onderskeie kolleges en universiteite gaan Akademia se afvaardiging met senior bestuurslede en akademici van die Amerikaanse instellings byeenkom en gesprek voer oor dié instellings se visie, missie en opvoedkundige posisie. Ander onderwerpe wat bespreek gaan word, sluit in die ontwikkeling van toepaslike fasiliteite, studente se ervaring van hul opleiding en hoe die instelling se akademiese en bestuurstrukture funksioneer.

Akademia het ten doel om die kulturele en wetenskaplike voordele wat akademiese opleiding inhou binne die Afrikaanssprekende gemeenskap se bereik te bring en om internasionale akademiese skakeling te fasiliteer. Die instelling streef daarna om ʼn universiteit te word wat rondom die integrasie van rede, geloof, gemeenskap en die individu binne ʼn Christelike tradisie georganiseer is.

Hoewel Akademia se onderrigmodel tans op hoëtegnologie-afstandsleer fokus, is die vestiging van ʼn residensiële universiteit ook in die vooruitsig gestel, om saam met die afstandsonderrigmodel te funksioneer. Die beoogde residensiële kampus sal hoofsaaklik daarop toegespits wees om afgeronde studente – opgelei met vakkundigheid en opgevoed in interdissiplinêre samehang – in Suid-Afrikaanse gemeenskappe te lewer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Jessica ·

Baie dankie Akademia dat julle vir ons kinders n toekoms bou en dat julle omgee. Julle sal verseker die vrugte daarvan pluk.

John ·

Miskien moet afvaardigings van buitelandse universiteite eerder hier besoek afle aangesien ons die wereld voor is tov van probleem-hantering in ‘n multikulturele werklikheidsfeer. Idealisme en vergesigte kenmerk buitelandse akademici. Die werklikheid gaan hulle met ‘n harde slag met die voetsoolvlak laat kennis maak. Leersaam kan so ‘n reis wel wees, maar eerlikwaar ons moet ons minderwaardigheidskompleks afskud. Danie Goosen is bekwaam verby en sy span skitter. Doen en lei die wereld in die donker tonnel wat orals opdoem.

Samewerking ·

Bou akademiese en navorsingsbande daar sodat julle lekker kan saamwerk.

Kosie Kramer ·

Die VSA is beslis nie meer `n voorloper in opvoeding nie. Volgens Fareed Zakaria is 75% van alle Ph.D’s buitelanders, wat dan teruggaan huistoe sodra hulle graad gevang het. Die poel akademici neem dus jaar na jaar af. Diegene wat in die VSA uitstyg, is oorwegend buitelanders, wat hul basiese opvoeding in die buiteland ontvang het. En, mense soos Stephen F Cohen, John Mearsheimer, Norman Finkelstein, Francis Boyle word afgekraak omdat hulle die waarheid oor die werklikheid verkondig. Finkelstein is selfs uit sy universiteitspos geskop daaroor.

JC ·

Uitstekend Akademia. Dit se baie dat julle Baylor Universiteit, Hillsdale College en Grove City Kollege gaan besoek!! Julle kon ook gerus ‘n draai gaan maak het by Liberty Universiteit, maar nou ja.
Stil, vasbeslote en verbete vorentoe in Afrikaans, dankie!

Eish ·

Ek is baie dankbaar vir hierdie verduidelikende berig oor die aangeleentheid van opvoeding tesame met opleiding aangesien ek ernstig verlore was met die vorige artikel waar woorde soos Afrika-intellektuele tradisie en futiele liberale eksperimente my grensloos in die duister gelaat het.

jaco ·

Een ding kan Akademia nie in die VSA leer nie: hoe kom hulle verby SA se drakoniese regstellende aksie wette?
As Akademia se personeel meer as 50 is, moet hulle regstellende aksie toepas. As hulle minder as 50 vaste personeellede het, maar hulle omset is bo ‘n sekere bedrag, moet hulle ook regstellende aksie toepas.
Akademia se werks- en onderrigtaal is Afrikaans. Swart mense praat dit nie want “dis mos die taal van die onderdrukker”. Stel Akademia dan ‘n meerderheid Afrikaanssprekende kleurlinge aan, gaan hulle hulle ook vasloop, want regstellende aksie word lankal só toegepas dat daar vir kleurlinge gesê word: “sorry no job because you are not black enough”.

Gemsbok ·

Indien Akademia se residensiële kampus op Orania gebou word sal dit beslis meer as vakkundige opleiding bied – dit sal hoop vir ‘n hele nuwe geslag Afrikaners bied.

Ebert Terblanche ·

Die Akademia-span kan dalk ook oorweeg om die “Transnational Association of Christian Colleges and Schools” in Virginia te besoek. Hulle akkrediteer skole en universiteite vir internasionale erkenning van hul kwalifikasies en is deur die Amerikaanse Federale Departement van Onderwys gemagtig om dit tot die nagraadse vlak te doen, vir beide residensiële- en afstandsonderrig. Terwyl die meeste instellings wat by hulle geakkrediteer is in die VSA voorkom, het hulle ook instellings in Malawi, Hong Kong en Taiwan geakkrediteer. Dit lyk ook of die instellings in Hong Kong en Taiwan se onderrigtaal nie Engels is nie, maar Chinees. So ‘n akkreditasie kan dalk vir Akademia ‘n hupstoot in sy status gee en minder afhanklik maak van akkreditasie deur die Suid-Afrikaanse regering.

Jan Jooste ·

Ek sou verbaas wees as daar opvoedkundig nog enigiets sinvol in die VSA bestaan.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.